Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-toetse ’n móét voor Leeus-reeks
Die Bulle-losskakel, Morné Steyn, lê Vrydagaand in Bloemfontein aan pale toe teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Ná die gewigtige besluit om nie met die Springbokke in die Rugbykampioenskap te waag nie, is voorbereiding vir die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus in 2021 die volgende groot uitdaging.

“Dit is moeilik. Ek dink nie jy kan ná so ’n lang tyd net opdaag om teen die Leeus te speel nie,” sê Morné Steyn, die Bulle se Springbok-losskakel.

Sou daar nie volgende jaar enige toetse gereël word in die opbou tot die eerste toets teen die Leeus op 24 Julie nie, sal dit die Bokke se eerste toets in 20 maande wees (sedert die Wêreldbeker-eindstryd).

Steyn, wat die 2009-reeks teen die Leeus op dramatiese wyse met ’n strafdoel van agter die middellyn beklink het op Loftus Versfeld, sê dit is nodig dat daar goeie samespel in die span is voor dié toerspan gepak word.

Jy kan hoe fiks wees, wedstrydfiksheid is iets heeltemal anders.

“Die ouens kan vars wees, maar jy wil dan ’n goed geoliede eenheid wees.

“Selfs ’n oefenkamp van drie, vier weke sal dalk nie genoeg wees nie.

“Jy kan hoe fiks wees, wedstrydfiksheid is iets heeltemal anders.

“Ek sou dink dit sal die plan wees om vooraf toetse te speel.”

Steyn sê met die Springbokke wat nou tuisbly, is die komende Curriebeker-kompetisie ’n lekker vooruitsig.

“Die tydsberekening het ook op ’n goeie tyd gekom. Ek dink dit is wat ons rugby nodig het.

“Al die groot kompetisies in wêreldrugby is plaaslike reekse soos die Top14 in Frankryk.

“Die Curriebeker-reeks was een van ons grotes en ek is bly ek het dit destyds ervaar. Dit is nou ’n goeie tyd om dit weer ’n groot kompetisie te maak.”

Oor die besluit om die Superreeks vir ’n nuwe kompetisie in die Noordelike Halfrond te verruil, het die 36-jarige Steyn gemengde gevoelens.

“Dit is hartseer, want dit was ’n uitstekende kompetisie. Maar om eerlik te wees, was ek moeg vir Superrugby en ek dink die ondersteuners ook.

Ons weet dit is ’n grote, veral ná die nederlaag teen die Cheetahs.

“Dit was ’n uitstekende kompetisie en ’n voorreg om in ’n span te speel wat dit drie keer kon wen, maar dit is tyd vir iets anders.

“Ek glo al lank Europese deelname is die regte pad. Daar is meer geld, die tydsones is beter vir ons en ’n vlug soontoe is net tien ure.”

Die Bulle kom Saterdag op Loftus in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Haaie te staan en Steyn voorspel dié wedstryd kan die Bulle se seisoen in die regte rigting stuur.

“Ons weet dit is ’n grote, veral ná die nederlaag teen die Cheetahs. Die gees in die kamp is regtig goed en Jake (White) doen baie om ons positief te hou en ’n positiewe ingesteldheid te hê.

“Maar ja, jy moet wen om dit so te hou.”

Meer oor:  Morné Steyn  |  Superrugby Unlocked  |  Bokke  |  Springbokke  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.