Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Morné ‘groot eindstryd-troefkaart’

Ervaring is altyd ’n groot bate.

Nog meer so in ’n eindstryd, sê Chris Rossouw, agterlynafrigter van die Bulle.

Chris Rossouw, Pieter Rossouw
Chris Rossouw (links) en ouboet, Pieter, sak in 2001 op Nuweland op Stefan Terblanche toe in die Curriebeker-eindstryd tussen die Westelike Provinsie en die Haaie. Foto: Gallo Images

In dié opsig kan die Bulle nie beter toegerus wees as met die veteraan Morné Steyn op losskakel nie.

Rossouw sê hy onthou dat hy ’n taamlik onervare losskakel was toe die Westelike Provinsie in 2000 en 2001 die Curriebeker gewen het.

“Die druk in ’n eindstryd is anders en ervaring tel. Jy het iemand nodig wat aan stuur van die groot oomblikke is,” sê Rossouw.

“Morné het al alles gesien. Destyds toe hy hier vir die Springbokke gespeel het en later in Frankryk. Ons het boonop goeie ervaring in die 9-10-12-ruggraat (Ivan van Zyl, Steyn en Cornal Hendricks).”

Rossouw sê daar is groot opgewondenheid by Loftus Versfeld voor Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Haaie.

“Ons is ’n groep wat eintlik eers ses maande gelede bymekaargekom het. Dat ons in so ’n kort tydjie baie bereik het, gee ons groot bevrediging,” sê hy.

“Om in ’n eindstryd te speel, is iets heel anders en die feit dat ons laas in 2009 die beker gewen het, is ’n groot bron van motivering. Ons weet hoe lank die ondersteuners al hiervoor wag.”

Die einste Steyn het in 2009 – toe die Ligbloues die Cheetahs met 36-24 geklop het – ’n persoonlike bydrae van 21 punte (vier strafdoele, drie doelskoppe en ’n skepdoel) gelewer.

Morné Steyn pronk saam met Fourie du Preez nadat die Blou Bulle die Cheetahs in 2009 se Curriebeker-eindstryd verslaan het. Steyn is Saterdag weer in die Bulle se beginspan. Foto: Gallo Images

Rossouw sê die Haaie was die bestendigste plaaslike span as daar in die geheel na die 2020-seisoen gekyk word.

“Hulle was aan die begin van verlede jaar uitstekend in die Superreeks en ons weet watter rol hul agterlyn gespeel het. Daar is baie talent in hul agterlyn en hulle kan aanvallend speel en goed verdedig.”

Die Haaie word nietemin as die Suid-Afrikaanse span beskou wat die meeste skop en daar word nie verwag dat die besoekers Saterdag hiervan sal afwyk nie.

Rossouw sê hoewel daar ’n “deeglike begrip van die groot geleentheid is” word dit by Loftus ook beskou as die begin van iets groter.

“Ons is vanselfsprekend opgewonde oor Saterdag en dit is waarvoor ons gewerk het, maar ons fokus ook op die proses,” sê hy.

“As ’n mens dink aan waar ons was toe ons verlede jaar in Julie met ’n hele paar nuwe spelers bymekaar gekom het, is dit ’n merkwaardige paadjie.”

Dit is nog nie seker of Stedman Gans, wat hom Saterdag op die nippertjie voor die halfeindstryd teen die Leeus aan die span onttrek het, beskikbaar sal wees om teen die Haaie te speel nie.

“Ons sal sien hoe hy vorder, maar dit is ’n besluit wat die mediese ouens moet neem,” sê Rossouw.

Meer oor:  Morné Steyn  |  Haaie  |  Chris Rossouw  |  Bulle  |  Curriebeker-Eindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.