Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Morné Steyn kry dalk weer Bok-kans

Die Springbokke oorweeg die 36-jarige Morné Steyn vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Morne Steyn
Morné Steyn in aksie vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Hy, Duane Vermeulen, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka is die enigste Bulle wat die week saam met die Leeus se Elton Jantjies en Wandisile Simelane na die Bokke se belyningskamp in die noorde genooi is.

Met Handré Pollard wat beseer is, kan die Bokke se breintrust van Rassie Erasmus en Jacques Nienaber vir Steyn as ’n versekeringspolis vir Pollard “uitneem”.

Pollard het verlede jaar in September in ’n kragmeting vir sy Franse klub Montpellier teen Racing92 ’n ernstige kniebesering opgedoen.

Hoewel Pollard se herstelproses op koers is en hy moontlik teen Mei al terug op die speelveld kan wees, is Steyn ’n opsie om op terug te val. Sy ervaring en die gebrek aan diepte op losskakel is nog ’n rede waarom Steyn waarde kan toevoeg.

Steyn het ook in vanjaar se Superrugby Unlocked en die Curriebekerreeks gewys dat hy nog genoeg skop in sy bene het as die Bokke weer op sy knoppie wil druk.

Hy het sy laaste en 66ste toets op 8 Oktober 2016 as ’n 32-jarige in Durban teen Nieu-Seeland gespeel en het geen onmiddellike planne om uit te tree nie.

Sover Rapport kon vasstel, is Steyn, Jantjies en die Haaie se Curwin Bosch die spesialis-losskakels wat na die week se plaaslike belyningskampe genooi is.

Die veelsydige agterspelers van die Westelike Provinsie en die Cheetahs, onderskeidelik Damian Willemse en Frans Steyn, sal binnekort by die volgende belyningskampe betrokke wees. Dis egter onseker of die Bok-afrigtingspan hulle as losskakels beskou.

Steyn speel binnesenter vir die Cheetahs en Willemse probeer hom op heelagter vestig.

Twaalf Haaie het die lys gehaal teenoor net vier spelers van die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-kampioen wat genooi is.

Ter verdediging van die Bok-afrigtingspan moet bygevoeg word Stedman Gans, sterspeler van die Bulle, is beseer. Die enkelbesering wat Gans einde Maart teen die Stormers opgedoen het, sal hom tien tot 12 weke uithou.

Dié besering kan ook verhinder dat hy deur die Blitsbokke oorweeg word vir vanjaar se Olimpiese Spele, wat op 23 Julie in Japan begin.

Cornal Hendricks
Cornal Hendricks Foto: Gallo Images

Nog ’n Bul-uitblinker, Cornal Hendricks, se kanse om weer internasionale rugby te speel is weens die beskikbaarheid van binnesenters soos Munster se Damian de Allende, Frans Steyn en Harlequins se André Esterhuizen groter op sewesvlak.

Hy en die Bul-vleuel Kurt-Lee Arendse het ’n groot kans om die Blitsbokke by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Nog een van die Bulle wat ongelukkiges is om nie ’n uitnodiging na ’n belyningskamp te kry nie, is die flank Marco van Staden.

Durbaniete sal ingenome wees dat Bosch, Ox Nche, Fez Mbatha, Thomas du Toit, Siya Kolisi, Sikhumbuzo Not­she, Sanele Nohamba, Jaden Hendrikse, Yaw Penxe, Lukhanyo Am, S’bu Nkosi en Aphelele Fassi deur Erasmus-hulle genooi is.

Nohamba en Hendrikse is op grond van hul uitnodigings nou bo skrumskakels soos die Bulle se Embrose Papier en Ivan van Zyl en die Leeus se Ross Cronjé op die Bokke se ranglys vir die posisie van skrumskakel.

Ná hul besoek aan die noorde en die draai in Durban, beplan die Bok-afrigtingspan om volgende week belyningskampe by die Westelike Provinsie en die Cheetahs te hou.

Dit is nog onseker watter spelers van die WP genooi is, maar dit behoort Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni, Frans Malherbe, Salmaan Moerat, JD Schickerling, Marvin Orie, Pieter-Steph du Toit, Willie Engelbrecht, Juanro Augustus, Hershel Jantjies, Willemse en Warrick Gelant te wees.

Die Blitsbok Rosko Specman sal glo saam met Steyn die Cheetahs se belyningskamp bywoon.

Specman, Engelbrecht, Augustus, Moerat, Mbatha, Nohamba, Hendrikse, Penxe, Fassi en Simelane is die spelers sonder enige toetservaring wat na die belyningskampe genooi is.

Meer oor:  Morné Steyn  |  Belyningskamp  |  Springbokke  |  Leeus-Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.