Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Morné: ‘Skopper lééf vir so ’n oomblik’

’n Wonder-drie deur Jaque Fourie  en ’n monster-skop deur Morné Steyn het die Leeus van 2009 se rug geknak, skryf Albert Heenop.

rugby
Jaque Fourie beur oor die doellyn vir sy verstommende drie teen die Leeus in die tweede toets op Loftus. Foto’s: Getty

Van ’n laaste plek in die Drienasies-reeks in 2008 tot die hoogtepunt van ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus in 2009.

Vir Peter de Villiers, wat Jake White opgevolg het ná sy sukses by 2007 se Wêreldbekertoernooi, was die pad as Bok-breier een van baie bulte en steiltes.

Nadat Suid-Afrika laaste geëindig het in die 2008-Drienasiesreeks het hulle hul regruk-poging begin deur aan die einde van die jaar drie opeenvolgende seges oor Wallis, Skotland en Engeland te behaal, waaronder ’n oortuigende sege van 42-6 oor die Rose op Twickenham.

“Ons swak vertoning in die Drienasies van 2008 was aan ’n verskeidenheid van faktore toe te skryf,” sê De Villiers.

“Daar was ’n suksesvolle WB-afrigter wat vervang is; ’n nuwe afrigter wie se aanstelling deur die Saru-president beskou is as nie bloot vir rugbyredes nie; spelers wat geglo het dat ek die span sou swart maak.

“Dit was alles eksterne faktore wat veroorsaak het dat die vertroue tussen coach en spelers nie na wense was nie.

“Die media was ook nie behulpsaam met die manier waarop hulle oor my geskryf het nie; daar was heelwat rassisme betrokke. ’n Sekere deel van die media wou gehad het dat ek moes faal.

“Aan die einde van 2008 het ons op toer gegaan met ’n hele nuwe gesindheid, en dit was goed vir die moreel van die spelers.

“Die hele span, van fisio tot speler nr. 40, het dieselfde doel voor oë gehad,” sê De Villiers.

Die ervaring, en inderdaad leierskap, in daardie Bok-groep, waarvan ongeveer ’n dosyn deel uitgemaak het van die groep wat twee jaar vantevore die Wêreldbeker in Frankryk gewen het, was ook deurslaggewend.

“Ervaring het nie ’n plaasvervanger nie,” erken De Villiers.

“Dis waarom ek ouens soos John (Smit) en Victor (Matfield) genader het; hulle ervaring sou die fondament skep vir ’n suksesvolle Springbok-groep.

“Ervaring bou selfvertroue, en selfvertroue en spangees kan ’n mens nie in oefenkampe bou nie; jy bou dit deur te wen op die veld.”

Ronan O’Gara loop Fourie du Preez in die lug. Dié voorval het tot die wenstrafdoel gelei.

De Villiers moes heelwat kritiek van die Britse pers verduur, toe hy in die bresse getree het vir Schalk Burger nadat dié daarvan beskuldig is dat hy sy vinger in Luke Fitzgerald se oog gesteek het . . .

“Die Britse pers wou ons span verswak, die gees van die spel beïnvloed, en ons Suid-Afrikaanse pers was nie opgewasse daarvoor nie,” meen De Villiers.

“Ek was bewus daarvan dat ek nie die ondersteuning van SA Rugby, die media, van niemand gehad het nie. Ek het egter gevoel dat ek moes opstaan vir Schalk; as die spelers dit gesien het, sou hulle ook opstaan en bymekaarstaan.

“En, ek het die karakter van my spelers geken; aggressie was ’n kenmerk van Schalk, maar om doelbewus sy vingers in ’n opponent se oog te druk . . . dit was te cheap vir Schalk.”

’n Hoogtepunt in die reeks was Jaque Fourie se verstommende drie in die 74ste minuut van die tweede toets op Loftus Versfeld wat die Bokke se reeksoorwinning moontlik gemaak het.

Ná bykans 25 toetse as die Bokke se buitesenter, wat die triomfantelike WB-eindstryd teen Engeland in 2007 ingesluit het, het Fourie in 2008 en 2009 homself egter op die Bok-plaasvervangerbank bevind.

“Ek moes ná die Wêreldbeker in 2007 ’n operasie aan al twee my lieste ondergaan,” vertel die lenige senter.

“Ek het die sogenaamde Gilmore’s Groin gekry, en die operasie het my ongeveer ses maande buite aksie gestel.

“Dit was moeilik om van die bank af te moes begin; Peter het oorgeneem as afrigter en elke afrigter het maar sy persoonlike voorkeure.

“Adrian Jacobs het die eerste twee toetse begin, maar omrede ek van ’n besering teruggekom het, het ek verwag om weer van die bank af te begin.”

Ná bykans ’n uur in die tweede toets het Fourie sy opwagting op die veld gemaak, en skaars 20 minute later in die hoekie oorgeduik.

“Ek glo dat as ’n mens ’n kans kry, moet jy dit gebruik,” sê hy.

“Gelukkig het dit uitgewerk dat ek in die hoek kon druk.

“Alles het so vinnig gebeur. Vanaf ’n lynstaan het ek en Morné (Steyn) ’n skêrbeweging probeer uitvoer, en in die proses het iemand sy vinger in my oog gesteek.

“Ek was nog besig om my oog te vryf, toe die bal weer met die agterlyn teruggekom het. JP (Pietersen) het hanteer, Heinrich (Brüssow) het na my toe gegee en ek is reguit hoek toe.

“(Ronan) O’Gara het so pas opgestaan nadat hy iemand geduik het, en ek is bo-oor hom.”

Ewe veel van ’n riller as Fourie se drie was Morné Steyn se monster-skop waarmee die reeks gewen is.

Morne Steyn
Andries Bekker omhels Morné Steyn ná sy wenstrafdoel van oor die 50 m.

Steyn het in Pretoria as reserwe opgekom in slegs sy tweede toets. Hy het eers Fourie se drie verdoel, voordat hy doodkalm in die 81ste minuut, met meer as 52 000 toeskouers wat hul asem opgehou het, ’n monster-strafdoel van binne sy eie halfgebied oorgesit het om sowel die toets, met 28-25, as die reeks vir Suid-Afrika te beklink.

Volgens Steyn was die verdoeling van Fourie se drie, van teenaan die kantlyn, moeiliker as die langafstand-strafdoel waarmee hy die reeks gewen het.

“Eerstens was Jaque se drie ongelooflik; min ouens sou daai drie kon druk,” sê hy.

“Om uit die hoek te skop was beslis moeiliker. Boonop was die stryd nog glad nie gewonne nie, so daar was nie werklik ruimte vir mis skop nie.

“Gelukkig was dit darem op Loftus, en ek was gewoond aan die veld. Enige skopper lewe vir so ’n oomblik.

“Hoewel Frans (Steyn) normaalweg die ou was wat lang skoppe waargeneem het, toe John, soos hy altyd vertel, nog gewik en weeg het vir wie om die bal te gee, toe staan ek reeds langs hom, en het ek eenvoudig die bal gevat,” onthou Steyn.

“Mense vra altyd of ek die skare hoor.

“Ja, ’n mens hoor die skare, maar jy fokus eenvoudig op dit wat jy uur in, uur uit ingeoefen het op die oefenveld.

“Die lekker ding van ’n skopper is dat jy onmiddellik weet wanneer dit ’n goeie skop is. Andries Bekker was die eerste ou wat my gegryp het – toe die bal nog op pad was pale toe.”

Meer oor:  Morné Steyn  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.