Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Morné wil weer vir die Bulle uitdraf

Morné Steyn se kop staan terug Loftus Versfeld toe.

Dié voormalige Springbok-losskakel het die groot begeerte om nog ’n slag vir die Blou Bulle te speel en sy rugbyloopbaan op sy ou tuisveld in Pretoria af te sluit.

Morné Steyn. Foto: Getty Images

Die 34-jarige Steyn se agent het reeds voelers na Loftus se base uitgesteek om te hoor of hulle belang stel in Steyn se dienste. Die Bulle het volgens Rapport se inligting aangedui dat hulle wel belang stel.

Met ’n klomp Springbokke wat ná die Wêreldbekertoernooi in Japan oorsee vertrek, is die Bulle gretig om spelers van gehalte vir volgende jaar te werf. Veterane soos Duane Vermeulen en Schalk Brits het ook vanjaar ’n positiewe impak by die Bulle gemaak.

Daar is ’n goeie kans dat Brits nog ’n jaar by die Bulle sal speel. Hy sou aanvanklik ná die 2019-seisoen uit rugby getree het.

Alhoewel daar nog nie met Brits onderhandel word nie, het die Springbok-haker aan Rapport erken hy “dink daaroor” en het hy ook reeds sy werkgewer, die Bulle se aandeelhouer, Remgro, genader om hulle goedkeuring te kry as hy sou besluit om vir nog ’n jaar in Pretoria te speel.

Die Bulle verwag om ’n klomp Springbokke aan oorsese klubs af te staan, met Jesse Kriel (Japan) en Lood de Jager (Sale Sharks) wat reeds kontrakte oorsee gesluit het. Daarbenewens oorweeg Handré Pollard groot aanbiedinge van sowel Montpellier as Bath, terwyl RG Snyman en Jason Jenkins se koppe Japan toe staan. Duane Vermeulen het ’n kontrak om ná die Wêreldbeker in Japan te speel.

Steyn se situasie is vloeibaar. Stade Français se afrigter, die oud Springbok- en Bulle-afrigter Heyneke Meyer, sal die laaste sê hê.

Die Franse liga het ’n nuwe reël wat van volgende jaar af toegepas word – die sogenaamde JIFF-reël – om te verseker spanne werf spelers wat kwalifiseer om vir Frankryk toetsrugby te speel.

Dit gaan die klubs dwing om gedurende die seisoen ’n gemiddeld van 16 uit hul 23 spelers te gebruik wat kwalifiseer om vir die Franse toetsspan te speel.

Met die Argentynse losskakel, Nicolás Sánchez, en die Franse nr. 10, Jules Plisson, in die span, het Steyn meestal heelagter vir die klub gespeel.

Steyn het hom as Bloemfonteiner ná skool by die Bulle aangesluit en was in die Bulle se kampioen-Super-spanne van 2007, 2009 en 2010 en het 95 keer vir die Blou Bulle uitgedraf en in 124 Super-wedstryde vir die Bulle gespeel. Hy het al 109 keer vir Stade Français uitgedraf en het 66 toetse agter sy naam.

Met Pollard wat moontlik volgende jaar oorsee sal speel, is Manie Libbok die waarskynlike nommereen-losskakel op Loftus, maar Steyn se ervaring kan nie onderskat word nie.

“Ons is genader, maar daar is nie ’n aanbod op die tafel nie. Ons moet praat, maar baie dinge kan gebeur voordat dit ’n werklikheid word,” het Alfons Meyer, die Bulle se uitvoerende hoof aan Rapport gesê.

Meer oor:  Morné Steyn  |  Stade Français  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.