Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Joost-siekte eis nog 'n oud-Springbok

Die voormalige Springbok-senter Wynand Mans is Donderdag in die ouderdom van 76 jaar aan motorneuronsiekte (MNS) dood.

Wynand Mans in 1964 toe hy as WP-speler die Curriebeker verower het. Foto: WP Rugby Eeufeesboek, 1983

Mans het in 1965 vir die Bokke teen Ierland in Dublin en teen Skotland op Murrayfield as John Gainsford se sentermaat gespeel, terwyl hy ook daardie jaar Nieu-Seeland toe getoer het sonder om in ’n toets uit te draf.

Mans was in die Westelike Provinsie (WP) se spanne wat die Curriebeker in 1964 en 1966 verower het.

Sy skoonseun Piet van Zyl het aan Netwerk24 gesê dat Mans se vrou, Rina, en drie dogters by hom in Onrus was toe hy uiteindelik die stryd teen MNS gewonne gegee het. Die Springbok-skrumskakel Joost van der Westhuizen en die Springbok-senter Tinus Linee is ook aan MNS dood.

“Dit was teen die einde ’n moeilike stryd. MNS is twee en ’n halwe jaar gelede by hom gediagnoseer, en hy het soos met al sy ander uitdagings die bul by die horings gepak. Hy het ongelooflike deursettingsvermoë gewys. Ons het hom nie een keer hoor kla nie. Hy het ’n wonderlike voorbeeld vir sy kinders en kleinkinders gestel,” het Van Zyl gesê.

Hy het bygevoeg dat die familie die terugslag goed hanteer.

“Hulle is almal gelowige mense en dis waar die krag vandaan kom. Hulle steun mekaar.”

Mans was ’n bekende in skeidsregterskringe en ook die laaste oud-Springbok wat die fluitjie op Curriebeker-vlak gedra het.

Hy was onder meer die blaser toe Transvaal die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986 met 24-19 in Johannesburg geklop het.

Paul Dobson, die Suid-Afrikaanse skeidsregtersghoeroe, het Vrydag hulde aan Mans gebring.

“Wynand het tot die derde plek op Suid-Afrika se skeidsregtersranglys gevorder agter Freek Burger en Fransie Muller. Hy was ’n baie goeie skeidsregter – soos hy ook ’n baie goeie speler was. As ’n mens was hy werklik eerbaar,” het Dobson gesê.

Mans se afsterwe kom enkele dae ná die van nog ’n oud-Bok, Gertjie Brynard (80). Hulle was spanmaats in die WP se Curriebeker-seges van 1964 én 1966.

Meer oor:  Skeidsregter  |  Wynand Mans  |  Mns  |  Oud-Springbok  |  Motorneuronsiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.