Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Muir bevraagteken Bok-spankeuses

Die Springbokke se probleme begin by Allister Coetzee, die Bok-breier, se spankeuses, sê Dick Muir, ’n voormalige Springbok-hulpafrigter en -senter.

Dick Muir / Foto: Gallo Images

Die Bokke het Saterdag hul jaareindtoer van vier toetse in Europa met ’n rekordnederlaag van 3-38 teen Ierland in Dublin begin.

“Die Springbokke moet in alle aspekte verbeter. Daar moet veral na die spankeuses gekyk word – ek dink nie die beste agterlyn word gekies nie,” sê Muir.

Die Bok-agterlyn het planloos, futloos en rigtingloos teen Ierland voorgekom. Die agterspelers het eenvoudig geen gevaar vir die tuisspan ingehou nie.

“Dit lyk ook of daar verwarring is. Die spelers weet nie of hulle wyd wil speel en of hulle die voordeellyn wil aanval nie. Die gevolg is dat die voorspelers hulself van hul voete af moet hardloop,” sê hy.

Hoewel Coetzee ’n groot klem op bestendigheid plaas, glo Muir dít bring jou ook net so ver.

“Dit is alles goed en wel om lojaal teenoor jou spelers te wees en hulle weer en weer kans te gee, maar as hulle nie begin goed vaar nie, moet jy eenvoudig veranderinge maak,” sê hy.

Die agterlyn makeer spelers wat planne maak, ruimte raaksien en aanval, diepte goed benut, kanse skep en goeie hardlooplyne gebruik.

“Jan Serfontein is ’n voorbeeld van ’n skeppende speler. Dit gaan daaroor om die teenstanders te manipuleer om te kyk waar jy gate in die verdediging kan kry. Daar is baie taktiek in die agterlyn betrokke.”

Damian de Allende / Foto: Gallo Images

Serfontein is egter nie beskikbaar vir dié toer nie omdat hy homself eers wil inburger by sy nuwe klubspan, Montpellier. Damian de Allende, wat sy plek op binnesenter teen Ierland volgestaan het, het ’n powere wedstryd beleef.

Dit het weereens vrae laat ontstaan oor die weglating van senters soos Rohan Janse van Rensburg en Frans Steyn uit die groep.

Hoewel Muir nie name wou noem nie, glo hy daar is heelparty spelers wat waarde tot die groep kan voeg.

“Daar is spelers binne die groep wat ’n verskil kan maak en baie spelers buite die groep wat ’n verbetering sal bring. As daar meer gekyk word na die spelers wat oorsee speel en kwalifiseer om die Bokke te verteenwoordig, kan dit ook ’n verskil maak.”

Die oud-Bok is ook nie daarvan oortuig dat die span se leierskorps sterk genoeg is om die span vorentoe te neem nie.

“Ek is nie seker wie die leiers in die span is nie, maar as dit nie goed gaan nie, moet dinge gestabiliseer word. Dit gebeur duidelik nie,” sê hy.

Die Bokke speel Saterdag in Parys in hul tweede toets van die toer teen Frankryk.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee  |  Jaareindtoer  |  Springbokke  |  Dick Muir
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.