Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Muishond’-WP troef res met sy ambisie

’n Paar oë sou dalk vandeesweek gerek het toe die oud-Springbokhaker Schalk Brits in ’n lighartige aanlyn gesprek met Victor Matfield gesê het dat hy ná skaars ’n jaar se rugby in Pretoria nou die Bulle, eerder as die Stormers (vir wie hy lank gespeel het), ondersteun.

Hoewel hy dit waarskynlik tong in die kies gesê het, sou jy hom gewis nie kon blameer as hy werklik eerder die Ligbloues steun nie.

Laat ek verduidelik waarom ek so sê.

Só lief as wat Kapenaars vir die Bulle se heelagter-aanwins, Gio Aplon, is, is hulle waarskynlik blyer dat die Westelike Provinsie daarin geslaag het om Warrick Gelant (foto) in te katrol. Foto: Gallo Images

Brits het laat in 2018 vir my gesê dat hy vroeër daardie jaar ’n aanbod van die Westelike Provinsie aanvaar het en die kontrak onderteken het om in 2019 vir die Stormers te speel. Hy het reeds van Londen af Stellenbosch toe getrek en sy kinders by ’n skool in die Eikestad ingeskryf toe hy ’n SMS-boodskap van Paul Zacks (tóé nog die WP Rugbyunie se uitvoerende hoof) kry dat die Kaapse unie kleinkoppie trek wat sy kontrak betref.

Ná só ’n episode verdien die WP wraggies nie sy steun nie. Daardie voorval het waarskynlik voortgespruit uit gevegte in die WP se wandelgange, met politieke oorwegings wat uiteindelik swaarder as gesonde verstand geweeg het.

Daar is egter nou meer eenheid onder die WP se baadjiedraers en die unie se ambisie is prysenswaardig. Met die sakeman André van der Veen aan die spits het die WP kliphard baklei om die dienste van Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, te behou en ook die Springbok-heelagter Warrick Gelant van die Bulle af te rokkel. Die WP hoop ook om die Bok-vaskopstut Vincent Koch van Saracens in te katrol.

Daarbenewens is al die WP se ander Wêreldbeker-helde ook behou.

Daar is wel al ’n hele paar aanwinste by die Vrystaat-Cheetahs en Blou Bulle aangekondig, maar niemand met die profiel van die spelers wat met die WP kontrakte onderteken het nie. Hiermee neem die WP risiko’s, veral gegewe die onsekerheid wat heers oor wanneer daar weer rugby gespeel gaan word.

Hoe dit ook al sy, Suid-Afrikaanse rugby het gewen deur die behoud van Du Toit.

Dié aanwinste is duidelik ook gemaak met die doelwit voor oë om goed in die Superreeks te vaar. Dis ’n benadering wat in hul gesigte kan ontplof omdat dit negatief inwerk op ’n unie se vermoë om ’n sterk tweede linie van spelers te kontrakteer, wat sy kans op sukses in die Curriebeker-reeks verswak.

Dit kos ook nie ’n appel en ’n ei om spelers van daardie stoffasie te lok nie, maar 2021 gaan ’n belangrike jaar vir die WP wees. Hy skuif Kaapstad-stadion toe en die hoop sal wees dat die Stormers danksy die wedstryddag-ervaring wat langs die V&A Waterfront gebied kan word, groot skares sal lok.

Tans word die WP as ’n effense skurk in Suid-Afrikaanse rugby beskou omdat hy stroomop swem. Van der Veen was uitgesproke in sy kritiek teen die sogenaamde “21-dag-klousule”, wat spelers tussen 24 April en 14 Mei die geleentheid gebied het om hul kontrakte op te sê. Dit was ’n toegewing deur Suid-Afrikaanse rugby se werkgewersorganisasie aan beroepspelers in die onderhandelinge oor ’n besparingsplan vir die SA rugbybedryf, wat salarisverminderings vir spelers tot gevolg gehad het.

Die verskil tussen ’n sakeman en administrateurs is natuurlik dat dit vir hom geen sin maak om tot iets in te stem wat jou oornag jou beste personeel kan kos nie. Aan die ander kant was die siening dat Zelt Marais, die WPRU se president, deel van die gesprekke was en dat die Kapenaars gekla het oor iets waarvoor hulle self gestem het.

Hoe dit ook al sy, Suid-Afrikaanse rugby het gewen deur die behoud van Du Toit en dit is danksy die WP eerder as diegene wat hulle tans agter die skerms verwyt. Dis allermins ’n sonde om te veg om Du Toit vir Suid-Afrikaanse rugby te behou.

En vra jouself dit: Wie se ondersteuners is tans die gelukkigste – die span wat ’n 37-jarige heelagter (Gio Aplon) gekontrakteer het of die een wat ’n Wêreldbeker-wenner in sy laaste vesting gaan hê?

Meer oor:  Schalk Brits  |  Warrick Gelant  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Bulle  |  Superrugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.