Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mvovo bokspring dalk tot in beginspan

Lwazi Mvovo kan straks ’n boksprong bo-oor Makazole Mapimpi tot in die Springbokke se beginspan gee vir aanstaande Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Durban.

Lwazi Mvovo in aksie in die Bokke se toets teen Ierland op Nuweland in 2016. Sy reputasie het daardie dag ’n groot knou gekry deur sy onvermoë om die Iere se taktiese skoppe te bemeester. Foto: Gallo Images

Die 32-jarige Mvovo was nie in die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, se groep vir Junie se kragmetings met Wallis en Engeland nie, maar sy ervaring van 17 toetse kan straks bepalend wees om hom in die beginspan te kry in die afwesigheid van die beseerde Sbu Nkosi.

Damian Willemse gaan na verwagting sy buiging op heelagter maak, met Aphiwe Dyantyi, wat slegs drie toetse op sy kerfstok het, op die ander vleuel.

Mapimpi se enigste wedstryd in die Groen-en-Goud was teen Wallis in Washington, wat die reeks teen die Engelse voorafgegaan het. Hy was onder die min Bokke wat daar met eer uit die stryd getree het, maar Erasmus kan dalk senuweeagtig wees oor die vooruitsig om hom met vier toetse se ervaring in sy agterste driehoek teen die Poemas te speel.

Willie le Roux, wat 44 toetse se ervaring het, het hom reeds by die Bokke aangesluit, maar sy Engelse klub, Wasps, voer aan daar is ooreengekom dat Suid-Afrika se voorkeur-heelagter slegs drie wedstryde in die Rugbykampioenskap gaan speel.

Mvovo se laaste toets vir die Bokke was in 2016 teen Ierland in Johannesburg. Die Iere het in die eerste van die reeks van drie toetse, op Nuweland, ’n groot swakpunt in Mvovo se mondering ontbloot deur hom met hangskoppe te peper. Hy het onseker voorgekom en talle kere besit aan die Iere afgestaan.

Hy het nog die volgende week se toets op Ellispark begin, maar Ruan Combrinck het as plaasvervanger ’n groot rol gespeel om ’n skynbaar verlore saak in die Bokke se guns te swaai.

So waarom is Combrinck of selfs Dillyn Leyds nie in die Bok-groep nie?

Lwazi bied vir ons meer wat ons in die agterste driehoek benodig. Hy was ook deel van ons beplanningskampe. Sbu Nkosi en Warrick Gelant gaan nog van hul beserings herstel
Rassie Erasmus

“Ons het hulle oorweeg, maar Lwazi bied vir ons meer wat ons in die agterste driehoek benodig. Hy was ook deel van ons beplanningskampe. Sbu Nkosi en Warrick Gelant gaan nog van hul beserings herstel,” sê Erasmus.

Wat die Bok-breier natuurlik ook in gedagte moet hou, is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se strategiese transformasie-plan. Dis geen geheim nie dat daar druk is om etnies swart spelers te kies. Erasmus speel oop kaarte dat hy transformasie as ’n prioriteit beskou.

Die sterke derduiwel Eben Etzebeth. (Foto: Gallo Images)

Die ysterslot en man wat die Bokke verlede jaar in meeste van hul toetse aangevoer het, Eben Etzebeth, lyk ook gereed om sy terugkeer van ’n ernstige armbesering in die Rugbykampioenskap te maak.

“Eben oefen al saam met ons sedert die Stormers se loslootjie-week ná hul laaste ligawedstryd. Hy is een van die fiksste ouens in die groep as jy na sy statistieke kyk en die manier wat hy oefen,” sê Erasmus.

“Ek’s redelik seker dat die spesialis toestemming sal gee dat hy mag speel. Eben het omtrent ’n hele voorseisoen met ons gedoen, so ek sal hom dadelik oorweeg. Sy gebrek aan speeltyd pla my nie, want ons het wedstrydsituasies in ons oefensessies nageboots.”

* Intussen was Erasmus en die vaskopstut Wilco Louw weens verkoue afwesig by Donderdag se oefensessie by die Belhar-rugbyklub.

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Rassie Eramus  |  Lwazi Mvovo  |  Durban  |  Johanesburg  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.