Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wright: ’n Lewe op ’n bus wat brand
 Cameron Wright
Cameron en Bronwen Wright saam met klein Harper Grace. Hulle moet vir haar staande bly, sê haar pa. Foto: Verskaf

Toe die skrumskakel Cameron Wright en sy vrou, Bronwen, vroeg in Julie hul tasse vir Port Elizabeth begin pak, was dit met drome van ’n idilliese toekoms.

Hulle sou nuwe strande verken, saam met hul dogtertjie, Harper Grace, sandkastele bou. Nuwe restaurante ontdek, nuwe vriende maak. ’n Geloofsreis hê in ’n kerkgroep wat hulle ken. Dalk selfs groot feesvieringe oor die ommekeer van die streek se grootste rugbyspan meemaak.

Hulle het nie verwag om ná net twee en ’n half maande al die meubels in hul nuwe huis op te veil sodat hul debietorders kon afgaan nie. Hulle het nie verwag om reeds met die uitbreek van die nuwe lente se eerste bloeisels terug in Durban te wees nie.

Hulle het nie verwag dat die Kings hulle letterlik en figuurlik op hul knieë sou dwing nie.

Voordat die 26-jarige Wright selfs die Kings-trui oor sy kop kon trek, het hy en sy nuwe spanmaats verlede maand die verpletterende nuus gekry dat die unie in vrywillige likwidasie gaan en die spelers se kontrakte opgesê word.

Dit was vyf dae voor betaaldag en almal moes skielik skarrel om skuldeisers te kontak en die wolf van die deur te hou.

Die Wrights is terug na Durban, waar hulle grootgeword en waar hy drie jaar vir die Haaie gespeel het, en het by Bronwen se ouers ingetrek. Hulle het tyd gekoop deur al die meubels in hul nuwe huis op te veil en te begin soek na huurders.

Maar dis ’n blote vinger in ’n stukkende damwal.

“Ek dink nie ek kan bekostig om nog ’n maand werkloos te wees nie,” sê Wright die afgelope week. “Ná die nuus van die likwidasie het ons besluit om al die meubels in ons nuwe huis op te veil, want ons geld is in eiendomme of effekte en ons wou niks losmaak nie. Maar nou is ons op die punt waar ons dink ons sal dalk ons pensioengeld moet begin gebruik, of eiendomme verkoop. Maar in dié mark . . . wie weet hoe lank dit kan vat?

“Ons praat daaroor, maar ek glo en vertrou steeds daar sal gou nuus kom oor ’n nuwe aanbod. Ek dink nie God is klaar met my in rugby nie. Ek het nog ’n goeie agt of tien jaar oor, ek wil nog internasionale rugby speel. Ek weier om te dink dis sommer net so verby.”

In alles wat hy doen, sê Wright, volg hy God se roepstem. Hy is tans in sy tweede jaar van ’n graad in teologie, omdat die Here dit op sy hart gedruk het om in daardie rigting te gaan.

“Ek gaan ’n graad kry vir quiet time hê,” spot hy.

Dit was ook God se wil dat hy die Haaie vir die Kings verruil en met sy gesin Port Elizabeth toe gaan, sê hy.

“Ons het geen idee hoekom nie. Maar ek weier om te glo dit was vir niks. Al is dit net om daar ’n huis te koop en nuwe mense te ontmoet, was dit reeds ’n goeie rede.

“Ons was gelukkig daar. Ons het daar gesien hoe mooi en goed Suid-Afrika kan wees as almal saamwerk en mekaar liefhet. Dis ’n wonderlike plek met ’n amperse kleindorpie-mentaliteit. Almal help mekaar, dis ’n skoon, vriendelike plek. Ons het vir onsself ’n mooi toekoms daar voorgestel.”

Daardie mooi toekoms is in die derde week van September met die swiep van ’n pen uitgewis. Wright-hulle moes reeds in Augustus die skoknuus hoor dat hulle nie in 2020 aan enige kompetisies sou deelneem nie. Maar niks kon hulle voorberei op die aankondiging op 19 September dat die Kings gelikwideer is en almal ’n nuwe heenkome moet vind nie.

 Cameron Wright
Cameron Wright in aksie vir die Haaie. Foto: Gallo

“Terwyl ons oor my kontrak onderhandel het, kon die Kings in Mei nie hul spelers betaal nie. Ek het reguit gevra of hulle my kan waarborg ek sal nie in ’n posisie wees waar ek nie ’n salaris kry nie, so toe skryf hulle ’n klousule in dat ek binne agt dae my kontrak kan opsê as daar ooit ’n situasie kom waar ek nie betaal word nie. Dit het my rustig gemaak, ek het gedink ek is beskerm . . . Maar toe is dit niks werd nie.

“Ek was so gretig om betrokke te raak by die Kings. Ek het na hul wedstryde gekyk en gedink dis net klein goedjies wat hulle terughou. Goedjies wat jy kon regmaak en dan vorentoe beweeg. Ek was nooit arrogant genoeg om te dink ek sou soontoe gaan en alles op my eie gaan reg­ruk nie, maar ek het geglo ek kon dinge help verander,” sê Wright.

Die vraag of hy bereid sou wees om terug te gaan, sou rugby in die Oos-Kaap ooit weer op stewige bene staan, laat Wright huiwer.

“Dis ’n goeie vraag . . . ek weet nie,” sê hy.

“Wat nou daar aangaan . . . Niemand wil verantwoordelikheid vat nie, almal blameer iemand anders. Maar die ouens wat die besluit geneem het, gaan aan met hul lewens.

“Ek kyk so daarna: As die Kings ’n bus was, was die direkteure agter die stuurwiel en die spelers en afrigters op die agtersitplek. Toe jaag die direkteure met die bus teen ’n berg vas, maar hulle spring uit en klim in ’n ander bus. En hulle is oukei, maar almal wat agter in die bus was, sit en brand.

My hart breek as ek dink aan die spelers wat niks anders as rugby het om op terug te val nie.

“Sou ek teruggaan PE toe? Dalk as daar goeie mense aan boord is, mense soos Robbi Kempson en Braam van Straaten, wat nou nog probeer om die situasie te beredder vir daai spelers wat nie nou op hul eie kan vorentoe gaan nie. Daar was goeie ouens by die Kings, maar dis nie hulle wat die besluit geneem het nie. My hart breek as ek dink aan die spelers wat niks anders as rugby het om op terug te val nie – wat nou van hulle?”

Wright, wat twee jaar gelede saam met die Springbokke in Washington was vir hul toets teen Wallis, het self nie in hierdie stadium ’n idee wat hy sal doen as daar nie binnekort ’n rugby-aanbod na sy kant toe kom nie.

Tog glo hy vas dinge sal goed vir hom uitwerk. God het hom immers al voorheen uit ’n brandende bus getrek.

“Die geloofspad wat ek nou loop, is nie die een waarop ek nog altyd was nie,” erken hy. “Ek het grootgeword met issues en ek was baie jonk toe ek begin topvlak-rugby speel het. Dit het my arrogant gemaak en ek het ’n heel verkeerde leefstyl gehad. Bronwen was in daardie stadium nog my meisie en baie bekommerd. Sy sou sê ek gaan vir jou bid, en dan het ek heel verwaand vir haar gesê, bid eerder tot my. Ek was ’n regte klipkop,” sê hy.

“Ek het beland in ’n soort spiraal, ek was depressief en op medikasie en daar was tye dat ek selfs gedink het aan selfmoord. Een aand het ek ’n ineenstorting gehad, en Bronwen het gesê sy vat my nóú na haar kerk toe.

“Ek was hierdie simpel outjie wat altyd vir gelowige mense gevra het hoe hulle kan glo wat die Bybel sê, maar daardie aand in daai kerk het die Heilige Gees ingegryp en alles verander. My oë het oopgegaan. Skielik kon ek sien wat my eintlike roeping in die lewe was, met God die middelpunt daarvan.”

Nou hou sy geloof Wright staande. Hy bring groot dele van sy dag deur by die One Life Church in Durban, waar hy betrokke is by die bediening en by berading. Hy sal vandag ook daar preek.

Ek glo steeds daar sal ’n deur oopgaan in rugby. En as dit nie gebeur nie, kan ek miskien afrig.

Tog, sê hy, is dit nie hoe hy sy bankrekening wil volhou nie.

“Nee, ek glo die geld wat die kerk kry, moet gebruik word om die armes te help en die kerk uit te brei. Ek sal nie reg voel om geld by hulle te vat nie,” sê hy.

“Ek glo steeds daar sal ’n deur oopgaan in rugby. En as dit nie gebeur nie, kan ek miskien afrig. Ek is mal daaroor om mense te leer en te help. Of dalk is die antwoord in my ander passie, vir huise bou en restoureer.”

Op moedverloor se vlakte sal hy nie gaan sit nie, sê Wright. Hy het in elk geval nie daardie opsie nie.

“My dogtertjie is nou 14 maande oud en haar naam, Harper Grace, beteken instrument van God.

“Jou instinkte verander as jy ’n ouer word. En dit maak alles wat by die Kings gebeur het soveel meer emosioneel, om te weet dit gaan ons kind affekteer as ons nie geestelik, emosioneel en fisiek stabiel is nie.

“Ons moet op ons voete bly vir haar. En ons sal. Ons het mekaar, en ons het God. En hy gaan nêrens heen nie.”

Meer oor:  Werkloos  |  Kings  |  Gesprek  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.