Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van ...
’n Loopbaan wat klink soos ’n visvangstorie
Albert Heenop gesels met Gerrie Sonnekus

Dit klink byna soos een van daai visvangstories wat ’n mens met ’n mildelike knippie sout moet neem.

’n Springbok-skrumskakel wat, ’n volle dekade ná sy internasionale debuut, in sy tweede toets speel – en dit op agtsteman!

Gerrie en Marlene Sonnekus met hul drie seuns, drie skoondogters en kleinkinders. Van links is Ané met Alex, Marnus met Ruben, Rikus en Jessica, en Riana en Wessel. Foto: verskaf

Dit is nietemin die ware verhaal van Gerrie Sonnekus (66), veteraan van Vrystaat-rugby in 160 wedstryde (1974-’85) waarin hy ’n rekord-69 drieë gedruk het en 63 keer kaptein was.

Dat Sonnekus wel ’n visvang-entoesias is, is ook waar.

“As ek ’n kans kry, vang ek vis,” beaam hy vanuit George, waar hy woon en ’n klerebesigheid bedryf.

“Ek het vriende in die Mosselbaai-omgewing, en kry elke dan en wan ’n oproep van hulle. ‘Wat maak jy? Kom môre saam see toe; ons gaan visvang,’ is normaalweg die gang van die gesprek, en ek laat my nie twee keer nooi nie.”

Sonnekus geniet nie net visse nie, maar voëls ook. Hy het juis met Rapport gesels nadat hy en vroulief Marlene van ’n voëlkyk-toer na Namibië en Botswana teruggekeer het.

“Ons het die laaste klompie jare erg in voëlkyk begin betrokke raak,” vertel hy.

“ ’n Mens vind dikwels dat ’n man en vrou afsonderlike stokperdjies beoefen, maar ek en Marlene het besef dat voëlkyk vir ons al twee aangenaam is.”

Gerrie en Marlene Sonnekus is 40 jaar getroud en het drie getroude seuns, Marnus (37), Wessel (33) en Rikus (31), wat al drie in finansiële bestuur werksaam is.

Gerhardus Hermanus Hendrikus Sonnekus, gebore op sy ouma se plaas naby Paul Roux in die Senekal-distrik op 1 Februarie 1953, was self die oudste van vyf kinders.

Die vriendskapsbande wat ’n mens deur rugby smee, staan bo enige hoogtepunt uit.

“Ons het in Welkom grootgeword en as tjokkertjies het die hele buurt se laaities in die parkie rugby gespeel,” onthou hy.

“Twee van my broers, ‘Jakkals’ en Pieter, het Cravenweek-rugby gespeel, maar snaaks genoeg was ek, wat nie Cravenweek gehaal het nie, die een wat Springbok geword het.

“Hulle was egter al twee uiters talentvolle spelers en sou waarskynlik beter Springbokke as ek gewees het as hulle ’n kans gekry het.”

(Pieter Sonnekus het sowel Noord-Vrystaat as Noord-Transvaal op skrumskakel verteenwoordig in die 1980’s.)

Op Kovsies in die vroeë 1970’s het Gerrie Sonnekus aanvanklik flank en agtsteman gespeel, maar hy het ook op senter en skrumskakel vir die koshuis uitgedraf.

“Ek het vroeg in 1974 saam met Shimlas getoer toe een van die skrumskakels seergekry en hulle my gevra het om uit te help. Dit het so goed gegaan op skrummie dat ek kort daarna die Vrystaat-span gehaal het,” vertel Sonnekus.

Dit was in die Vrystaat se nr. 9-trui dat Sonnekus teen die oorwinnende Britse Leeus in 1974 te staan gekom het. Die Leeus het in daardie stadium die Springbokke reeds oortuigend verslaan in die eerste twee toetse, maar die Vrystaat het ’n verbete stryd opgesit en so hittete die besoekers hul enigste nederlaag toegedien.

“Vrystaat was op pad om te wen,” meen Sonnekus. “Kleintjie Grobler (flank en later Springbok) het reg teen die einde, met Vrystaat 9-8 voor, vir die skeidsregter, Gert Bezuidenhout, gesmeek: ‘Oom Gert, doen Suid-Afrika ’n guns en blaas die eindfluitjie!’

Vrystaat het in 1983, onder aanvoering van Gerrie Sonnekus die eerste wenners van die eertydse Lion-beker geword deur Transvaal met 24-12 te verslaan. Hier word Sonnekus skouerhoog van die veld gedra deur Bees Steyn. Hansie Dirksen hou die beker saam met Sonnekus vas, terwyl Vleis Visagie en Gysie Pienaar agter sigbaar is. Foto: argief

“Bezuidenhout het egter nog een skrum beveel, en daarvandaan het die Walliese vleuel JJ Williams gaan druk om die Leeus in die doodsnikke met 11-9 te laat wen.”

Sonnekus het nietemin genoeg beïndruk om die aandag van die nasionale keurders op hom te vestig, en toe die skrumskakel Roy McCallum weens ’n besering moes onttrek vir die derde toets in Port Elizabeth, het die 21-jarige Vrystaat-student sy groot kans gekry.

“Dit was totaal onverwags,” erken hy. “Ek was in Welkom waar ek gedurende die Julie-vakansie op die myn gewerk het, toe hulle my laat weet het dat ek op standby is.”

Ongelukkig het die Springbokke nog ’n drag slae (9-26) op die lyf geloop en die nuweling-skrumskakel was een van drie Bokke wat die trekpas gekry het.

“Alles het so vinnig gebeur dat daar nie tyd was om te tob nie. Ek het my beste gelewer en voel gemaklik daarmee dat ek my kant gebring het, hoewel ’n sekere gedeelte van die pers my as een van die sondebokke uitgemaak het.

“Dis beslis nie iets wat my nagte laat wakker lê het nie . . .”

Presies tien jaar later, en weer in Port Elizabeth, maak Sonnekus die tweede keer sy buiging in Groen-en-goud – dié keer op agtsteman in die 1984-reeks teen Engeland, wat Suid-Afrika oortuigend wen.

Die ywerige agtsteman is hierdie slag een van die Springbok-uitblinkers en druk ’n drie in die weghol-oorwinning van 35-9 in die tweede toets op Ellispark.

“Dit was baie bevredigend,” erken Sonnekus, “veral toe ’n deel van die Britse pers my as een van die spelers van die reeks uitgesonder het.

“Dit was ’n hoogtepunt.

“Vir my staan die vriendskapsbande wat ’n mens deur rugby gesmee het egter uit bo enige hoogtepunt. Selfs met ouens teen wie ’n mens gespeel het; as jy hulle jare later raakloop, voel jy daardie band . . .”

’n Laagtepunt in Sonnekus se betrokkenheid by rugby was toe hy in 1993 genoodsaak was om die leisels as Springbok-afrigter neer te lê, te midde van aantygings van die wanbesteding van geld in Vrystaat-rugby – voordat hy nog die Bokke in ’n enkele toets kon afrig . . .

Sonnekus het in daardie stadium Vrystaat suksesvol afgerig, maar terselfdertyd as bemarkingsbestuurder vir Vrystaat-rugby opgetree.

Drie jaar later, in 1997, is hy in ’n hof van enige onregmatighede kwytgeskel, maar dit was te laat vir terugdraai en dié polemiek het hom van die voorreg ontneem om die Springbokke af te rig.

“Dit was nie lekker nie. Maar ek het die regte ding gedoen en die Gerrie Sonnekus wat daaruit gegroei en ontwikkel het, is ’n beter mens.

“Ek het vrede daarmee gemaak en aangegaan met my lewe.”

’n Paar jaar gelede het Sonnekus ook ’n traumatiese ervaring deurgemaak toe hy en vriende deur gewapende rowers oorval en aangerand is op ’n visvanguitstappie in Port Alfred.

“Midde-in daardie ervaring het ’n mens deur ’n helse wroeging gegaan, maar ons is ook daardeur. Ek het besef dat ek ’n tweede kans ontvang het en eenvoudig voluit moet leef.”

Voluit leef is beslis Gerrie Sonnekus se motto, en visvang is een van die klein dingetjies wat deesdae kleur aan sy lewe verleen.

“Seekos is so ’n lekkerny,” skerts hy.

“Toe die stokvis onlangs geloop het, het my pêlle my weer genooi. Dis ’n bra lelike vis as jy hom uit die water trek, maar as hy vars gaar gemaak word . . . Daar’s niks lekkerder nie!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.