Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ná hartseer byt Allister Namibië-stang

’n Nuwe tyd en ’n nuwe uitdaging.

Só bestempel Allister Coetzee, gewese Springbok-afrigter, sy aanstelling as Namibië se nuwe hoofafrigter. Hy is vandeesweek in dié pos aangestel en sal deeltyds ook die Italiaanse klub Rovigo afrig.

Allister Coetzee sal deeltyds die Italiaanse klub Rovigo afrig.

Terwyl Coetzee steeds sy tyd as Bok-afrigter onthou, kyk hy nie terug nie.

“Ek het my uitdagings gehad en ek het geen berou oor daardie tydperk nie. Ek het baie daaruit geleer en solank ’n ou leer, is dit ’n goeie ding,” het hy Saterdag aan Rapport gesê kort voordat hy op ’n vliegtuig na Abidjan geklim het om hom by die Nami­biese span aan te sluit.

Coetzee het Saterdag eers na Addis Abeba, Ethiopië, gereis, waar hy die Namibiese span vir die eerste keer op die lughawe ontmoet het. Hulle het saam na die Ivoorkus gevlieg vir kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbekertoernooi.

Namibië speel op 3 Julie teen die Ivoorkus en vier dae later teen Madagaskar. Net twee van dié drie spanne sal verder vorder in die kwalifiserende rondes vir ’n plek in Rugby Afrika se top-8, wat sake om ’n plek in die WB-toernooi van 2023 sal uitspook.

Namibië het in Oktober 2019 hul laaste toets gespeel – in die WB-toernooi teen die All Blacks.

“Dit is mos altyd iets wat ’n ou wil doen – om op die hoogste vlak af te rig. Dit is lekker om te sien hoe dit met rugby gaan onder die ontwikkelende lande.

“Destyds, toe ek die SA o.23-span afgerig het, het ons teen Zimbabwe, Marokko en Tunisië gespeel. Ek het dus reeds ’n voorsmakie gehad.”

Sedert hy in 2017 by die Bokke weg is, het hy die Canon Eagles in Japan afgerig, maar huiswaarts gekeer aan die begin van die Covid-19-pandemie. Coetzee het sy skoonpa, sy swaer, skoondogter en in Desember ook sy ma aan die siekte afgestaan.

“Toe Covid-19 gekom het, moes ek besluit of ek by my familie wil wees. Ek is bly dat ek die tyd tot nou toe saam met hulle kon deurbring.

“Ek wou nie op ’n ander plek wees nie. Dit was ’n seëning dat ek by my familie kon wees. Ek het vier familielede verloor. Jy kan jou indink, dit was ongelooflik sleg.”

Hy lag as jy hom vra of hy nog dieselfde passie vir die spel het.

“Ek was vir 23 jaar in die onderwys en dit was nog altyd ’n passie om met mense te werk.”

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Namibië  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.