Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Enver Brandt honger ná tyd in ‘woestyn’

Vir sowat 17 maande moes die vleuel Enver Brandt met verlange in sy oë kyk hoe sy Griekwas-spanmaats op die rugbyveld baljaar – en moes hy vrede daarmee maak om langs die kantlyn te wees.

Griekwas se Enver Brandt sit af op een van sy kenmerkende lopies in die eindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks in 2019 teen die Pumas in Saldanhabaai. Foto: Gallo Images

Nou is die blitsige 29-jarige Brandt, wat in 2019 in die Poubloues se eerste Curriebeker-wedstryd van die seisoen, teen die Haaie sy skouer beseer het, uiteindelik beseringsvry.

En lek hy behoorlik sy lippe af om speelkans te kry.

“Ek is baie opgewonde om terug te wees, daardie 17 maande langs die kantlyn was lank, baie lank. Daar is baie energie, ek wil graag weer speel,” sê Brandt.

Dit was moeilik om verlede jaar uit te sit, met die span wat so goed gedoen het.

“Dit was ’n frustrerende tyd toe ek beseer was. Boonop het dit lank geneem om my krag in my skouer te herwin. Asof dit nie genoeg was nie, het ek ook tussendeur las van ’n dyspierbesering gehad.

“Dit was moeilik om verlede jaar uit te sit, met die span wat so goed gedoen het. Ek het baie dinge misgeloop, met Griekwas wat verlede jaar ’n goeie jaar gehad het (die Noord-Kapenaars het die halfeind van die Curriebeker gehaal).”

Sedert Brandt hom in 2017 by Griekwas aangesluit het, het hy vinnig in ondersteuners se harte ingekruip met sy blitsige lopies. Dit is iets om te aanskou wanneer hy omtrent letterlik sy ore plattrek en afsit doellyn toe.

Hy het immers al 30 drieë in 34 wedstryde (in alle kompetisies) vir die Poubloues gedruk.

Enver Brandt ontvang behandeling in die Curriebeker-wedstryd teen die Haaie in Julie 2019 in Durban. Foto: Gallo Images

Brandt was op die plaasvervangersbank ingesluit vir die afgelope naweek se kragmeting teen die Leeus in Kimberley. Weens weerlig is die wedstryd vroeg in tweede helfte afgelas, met die Johannesburgers wat met ’n sege huiswaarts gekeer het. Vir Brandt het dit beteken dat hy steeds nie speelkans gekry het nie.

Die Poubloues, steeds segeloos vanjaar, reis vandeesweek na Mbombela waar hulle Vrydag teen die Pumas te staan kom. Dit is ’n wedstryd wat Griekwas moet wen.

Ja, hulle was ongelukkig om teen die Leeus en ’n rapsie meer as twee weke gelede teen die Haaie te verloor, maar ’n sege oor die Laevelders is nie onderhandelbaar nie.

Dat die Poubloues se spel die laaste paar weke ’n opwaartse kurwe toon, kan nie betwyfel word nie. Maar die wrede realiteit is dat ’n span se sukses beskou word aan die aantal oorwinnings wat behaal word – nie voetnotas wat verwys na hoe naelskraap nederlae was nie.

Indien Griekwas kan voortbou op hul vertoning teen die Leeus, is ’n oortuigende oorwinning oor die Laevelders beslis binne hul bereik.

“Ons sal ons teenstander ontleed en kyk wat is die plan wat ons teen hulle gaan hê. Dit gaan nie maklik wees nie, maar as ons hou by die wedstrydplan is ek seker sal alles goed uitwerk,” sê Brandt.

Meer oor:  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.