Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Naas: Jannie was méér as daai vuishou

Vandag presies 34 jaar gelede het Jannie Els, destydse agtsteman van die Vrystaat, vir Naas Botha, die Springbokke en die Ligbloues se skopkoning, met ’n linkerhaakhou bygekom in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein.

Naas Botha ná die voorval waarin Jannie Els hom geslaan het.

Die datum was 13 Junie 1987, en dit is ’n voorval wat menige Blikoor-ondersteuner tot vandag toe met genoegdoening onthou.

Els is Woensdag in die ouderdom van 60 jaar aan Covid-19 dood, en sy afsterwe het opnuut herinneringe aan die opspraakwekkende onderonsie met Botha laat opvlam.

Botha het vandeesweek egter aan Rapport gesê dit is ’n jammerte dat Els hoofsaaklik vir dié voorval onthou word, eerder as vir die goeie speler wat hy inderdaad was.

“Jannie Els verdien heelwat meer as bloot daardie konnotasie,” meen Botha, wat deesdae self ’n Bloemfonteiner is.

“Almal van ons wat rugby gespeel het, weet dat sekere dinge in die hitte van die stryd gebeur. So, wat daardie dag in 1987 in die Vrystaat-stadion gebeur het, was doodeenvoudig net dit, ’n voorval; einde van die storie.

“En, daar was geen kwade gevoelens tussen my en Jannie ná die tyd nie.

“As daar ondersteuners van die spel is wat die perke oorskry en genot uit so ’n voorval put, dan is dit hul saak; dit het niks met my uit te waai nie.

“Die feit van die saak is, Jannie Els was beslis nie ’n slegte speler nie, en verdien meer krediet vir die speler wat hy was.”

Nog een van Suid-Afrika se bobaas-skoppers uit daardie tydperk, die Vrystaatse kanonpoot De Wet Ras, stem saam met Botha.

“Inteendeel, Jannie was skaam oor daardie voorval; dit was ’n teer punt vir hom,” onthou Ras.

Naas Botha word eers deur die Vrystaatse regtervleuel Chris Badenhorst geklits voordat Jannie Els hom bydam (foto 2). Op foto 3 lê Botha katswink op die grond terwyl die geveg voortwoed.

“Buitendien was dit iets wat op die ingewing van die oomblik gebeur het.

“Jannie wou werklik nie gehad het mense moet hom daarvoor onthou nie. Hy wou as die vurige speler van Vryburg onthou word.

“Ek self het slegs een keer saam met Jannie vir die Vrystaat gespeel, aangesien hy sowat sewe jaar jonger as ek was.

“Ek het nietemin voorheen ook teen hom Vrystaat-proewe gespeel, en het daar en dan besef dat dit ’n harde mannetjie is.

“Van die veld af was hy egter ’n ongelooflik aangename ou.”

Die Springbok-heelagter Gysie Pienaar, wat gedurende die jare 80 die onderkaptein van die Vrystaat was, beskou Els as ’n tipiese “gentle giant”.

“Dit is regtig jammer dat Jannie meesal onthou word vir die voorval tussen hom en Naas,” beaam Pienaar.

“Die ding is, op die veld is ’n mens vyande, maar van die veld af vriende.

“En, mense wat nooit self rêrig die spel gespeel het nie, sal nie heeltemal daardie besonderse kameraderie begryp nie.

Jannie Els

“Jannie Els was ’n baie goeie speler en ’n ongelooflike mens. Almal was lief vir Jannie.

“Die gemeenskap het ’n puik mens verloor.”

Hansie Dirksen, nog een van Els se Vrystaat-spanmaats, het hom uit Savannah, in Georgia in die VSA, as ’n wonderlike spanmaat bestempel.

“Jannie was ’n optimistiese mens van formaat,” sê Dirksen.

“Ons bid God se seën oor sy naaste familie en vriende.”

Gerrie Sonnekus, ’n voormalige Vrystaat-kaptein, onthou Els as ’n harde, eerlike en aggressiewe speler.

Els het van 1983 tot 1988 die Blikore in 22 wedstryde met onderskeiding verteenwoordig.

Hy word oorleef deur sy seun, WP, sy skoondogter, Williche, en sy broer, Willie.

Meer oor:  Naas Botha  |  Jannie Els
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.