Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Naas Saterdag terug op SuperSport

Naas Botha sal Saterdag vir die eerste keer sedert die Ashwin Willemse-voorval van 19 Mei terug in sy pos as rugby-ontleder in die SuperSport-ateljee wees.

Ashwin Willemse het Donderdag ’n meestersgraad in Entrepreneurskapsbestuur en die skepping van nuwe sakegeleenthede by die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Foto: Twitter

SuperSport het Donderdag bevestig Botha, Gcobani Bobo, Breyton Paulse en Robbie Kempson sal die ontleders vir die Superrugby-wedstryde tussen die Bulle en die Jaguares (15:05) en die Stormers en die Haaie (17:15) wees.

Xola Ntshinga sal as die aanbieder optree.

Dit is egter nog onduidelik wanneer Nick Mallett en Willemse terug op die kassie sal wees, indien hulle enigsins weer as ontleders gaan optree.

Willemse het op 19 Mei die SuperSport-ateljee in Randburg, Johannesburg, in ’n regstreekse uitsending verlaat nadat hy vir Botha en Mallett van neerhalende gedrag teenoor hom beskuldig het. Hy het ook na hulle verwys as spelers van die apartheidsera. Dié voorval het ’n rassieherrie ontketen en nie een van dié drie was sedertdien weer op die kassie te sien nie.

Hoewel Willemse se toekomsplanne nog onduidelik is, het hy Donderdag vir die eerste keer sedert dié voorval getwiet.

Willemse se twiet het egter nie oor die uitstap-voorval gehandel nie. Hy het aangekondig dat hy ’n meestersgraad in Entrepreneurskapsbestuur en die skepping van nuwe sakegeleenthede aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het. Hy het dié graad met lof geslaag.

Ashwin Willemse en sy vrou, Michelle, by die gradeplegtigheid. Foto: Twitter

Ná die uitstap-voorval het SuperSport ’n onafhanklike advokaat, Vincent Maleka, genader om die saak te ondersoek en ’n verslag op te stel.

Maleka kon in sy verslag geen tekens van rassisme by Botha of Mallett vind nie. Willemse het nie aan dié ondersoek deelgeneem nie en was ook nie tevrede met Maleka se bevindings nie.

Willemse se prokureur, Nqobizitha Mlilo, hou vol rassisme het wel ’n rol gespeel. Mlilo het gesê hulle gaan die saak voor die Gelykheidshof bring. Die Menseregtekommissie gaan ook moontlik die Willemse-saak bekyk.

SuperSport wou nie Donderdag kommentaar lewer oor dié aangeleentheid nie.

Naas Botha is Saterdag terug op die kassie. Foto: Christiaan Kotze

“Dit is die maatskappy se beleid om nie SuperSport se regsake in die openbaar te bespreek nie,” het Clinton van der Berg, ’n woordvoerder van SuperSport, gesê.

Ná die Willemse-voorval, het vier SuperSport-werknemers, Ntshinga, Bobo, Owen Nkumane en Kaunda Ntunja ’n prokureursbrief aan hul werknemer gerig waarin hulle die uitsaaier van rassisme, viktimisasie, inkomste-ongelykheid en intimidasie aangekla het.

Die Sunday Times het vroeër berig die vier het ook in die brief beweer dat spesifieke rolle van ontleders “voorbehou is vir niewit-kenners”. Van hul ander griewe was dat wit werknemers glo meer betaal word, terwyl daar van die swart aanbieders verwag word om meer werk te doen. Bobo, Nkumane, Ntshinga en Ntunja moes glo ook al “openbare vernedering, beledigende taal en ander onwelvoeglike behandeling” trotseer.

Ná ’n interne ondersoek, is dié kwessie ook deur SuperSport afgehandel.

MVMT-Prokureurs, wat die brief namens die vier ontleders aan SuperSport gerig het, wou vroeër vandeesweek nie kommentaar lewer oor die wyse waarop dié griewe opgelos is nie.

Willemse het nie Donderdag op navrae geregeer nie.

Meer oor:  Nick Mallet  |  Naas Botha  |  Ashwin Willemse  |  Supersport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.