Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Naka sê Bokke moet Dweba betrek

Die Cheetahs se vuurvreter-haker Joseph Dweba, wat vir die volgende twee seisoene sy rugby in Frankryk gaan speel, is bestem om vir die Springbokke te speel.

Naka Drotské in aksie op Nuweland in 1997 vir die Bokke teen Tonga. Foto: Gallo Images

So sê Naka Drotské, ’n voormalige Springbok-haker, wat die Cheetahs ook aangevoer én afgerig het.

Ek dink beslis Dweba moet in Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) en Rassie Erasmus (SA Rugby se direkteur van rugby) se toekomsplanne wees. Ek glo dis nou die perfekte tyd om hom te betrek,” sê Drotské, wat saam met die Bokke die Wêreldbeker in 1995 verower en altesaam in 26 toetse gespeel het.

Hy is egter nes baie ander Cheetah-ondersteuners teleurgesteld dat Dweba vir die span verlore is en sê dis ’n groot terugslag vir die Vrystaters.

“Dweba se skuif na Frankryk is ’n baie groot verlies. Hy is een van die mees fisieke spelers in die span en ’n uitstekende baldraer, wat die span met welslae aangewend het om oor die voordeellyn te kom.”

Joseph Dweba se beweeglikheid is een van sy groot bates. Foto: Gallo Images

Drotské sê voorts Dweba is nie net ’n goeie skrumwerker en baldraer nie, maar is ’n sterk speler, wat goed kan verdedig en daarby is sy werkverrigting, met sy grootte in ag geneem, iets om te aanskou.

Met Dweba se vertrek behoort Wilmar Arnoldi die kitaar te slaan op haker. Dan is daar nog ook Marnus van der Merwe, wat intussen na flank geskuif is, en ook Reinach Venter, wat weer op sy beurt na stut geskuif is.

Een van dié twee behoort Arnoldi se adjudant te wees, tensy die span se hoofafrigter, Hawies Fourie, planne het om nog ’n haker te kontrakteer.

“Dit gaan moeilik wees vir die Cheetahs om iemand te kry wat sy skoene gaan vul. Maar rugby gaan oor geleenthede en die Cheetahs is die perfekte plek vir jong, talentvolle spelers om geleenthede te kry, soos wat met Dweba ook die geval was,” meen Drotské.

Daar is vroeër in sy loopbaan baie gemor oor Dweba se ingooiwerk by die lynstane, maar, sê Drotské, dis lank nie meer ’n besprekingspunt nie.

“Sy lynstaanwerk het baie verbeter die laaste seisoen. Dit is iets waaraan ’n speler kan werk en ’n mens kan sien hy begin selfvertroue kry met sy ingooie.”

Nog ’n Cheetah-haker en -kaptein, Adriaan Strauss, het ook vir die nasionale span gespeel en ook die span aangevoer.

Strauss se neef Richardt het ook die nommertwee-trui vir die Bloemfonteinse span gedra en het vir Ierland gespeel.

Dan is daar ook nog Tiaan Liebenberg, wat later vir die Westelike Provinsie en Stormers gespeel het, wat ook ’n Bok was.

Bismarck du Plessis het vanaf die Vrystaat Haaie toe geskuif en daar ’n Springbok geword.

Dweba sal hom dus by ’n uitgelese groep spelers, wat vir die Vrystaat gespeel het, aansluit indien hy die volgende Vrystaatse haker word om vir die Springbokke te speel.

Meer oor:  Naka Drotské  |  Bokke  |  Cheetahs  |  Springbokke  |  Joseph Dweba  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.