Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Namibië en nuwe breier se paaie skei
Chad Plato, kaptein van Namibië, vier sy 3de drie teen Italië in ’n 2019-Wêreldbekerwedstryd. Foto: Getty Images

Namibië soek ’n nuwe rugbyafrigter ná die bedanking van Johan Diergaardt, wat vroeër vanjaar aangestel is om die nasionale span af te rig.

Diergaardt het aan Rapport gesê die frustrasies wat hy as breier ervaar het, het hom geen ander keuse gelaat as om te bedank nie.

Die breekpunt, sê hy, was toe hy vir ’n knieoperasie moes gaan en die Namibiese Rugbyunie (NRU) hom net 25% van sy salaris betaal het. Dít, tesame met die feit dat kontrakte nie gefinaliseer is nie en bystand nie aan spelers tydens Covid-19 gegee is nie, het die situasie ondraaglik gemaak.

“Ek het opgehou, dit het net te frustrerend geraak. Ons almal het dit moeilik gehad, niemand kan dit bevraagteken nie.

“Op 1 Oktober het ons begin met ons voorseisoense oefenprogram, wat baie geesdriftig deur ’n klomp spelers bygewoon is,” vertel Diergaardt.

“Dit het my nogal baie moed gegee. Intussen het al die strydpunte bly sloer. Die verskoning was dat dit verwys is na Wêreldrugby, wat dit nog moet goedkeur. Dit was ook so met my kontrak en my assistente se kontrakte.

“Toe ek einde November vir ’n knieoperasie gaan en hulle my net 25% van my salaris betaal, het ek besluit dis nou genoeg. Alles wat ons sedert my aanstelling gedoen het, was te goeder trou in die afwesigheid van ’n kontrak. As ek nie op siekverlof geregtig was nie, moes dit in ’n kontrak aan my uitgewys gewees het.”

Diergaardt sê die gesloer met bystand vir spelers was ook ’n groot faktor.

Ek dink nie ons spelers se waarde word raakgesien en erken nie.

“Ek dink nie ons spelers se waarde word raakgesien en erken nie. Ons spelers het swaargekry met Covid-19. Nou, nadat ek bedank het, is daar geld vir kos-bystand en geld vir taxi’s. Dis te laat, want die swaarkry is verby.”

Corrie Mensah, president van die NRU, het aan Rapport gesê hul siening is baie anders oor die saak en dat Diergaardt, en nie die NRU nie, aangedring het om eerder as ’n diensverskaffer as ’n werknemer beskou te word.

“Op grond hiervan is hy nie soos ’n werknemer ingevolge die arbeidswet op siekverlof of gewone verlofdae geregtig nie. ’n Vertrouensbreuk sou wees as die NRU die beginsels van die kontrakooreenkoms verbreek het, maar die administratiewe funksie is korrek volgens sy kontrak uitgevoer,” het Mensah aangevoer.

“Om menslikheidsredes sou ons uiteraard oop gewees het om die saak te bespreek, maar sy benadering om ’n prokureursbrief aan ons te rig en op die volle betaling aan te dring, het nie veel ruimte hiervoor gelaat nie. Ons kon regtig daaroor gepraat het, dit was werklik nie ’n rede om te bedank nie.

“Ons het volgens sy versoek nie belasting afgetrek nie, want hy wou nie as ’n werknemer beskou word nie.

“Op ’n persoonlike vlak is dit ook teleurstellend. Ek en die NRU-raad het baie kritiek in rugbykringe verduur oor die feit dat Johan ons voorkeurkandidaat was om ná Phil Davies se vertrek oor te neem.”

Mensah sê die hoofafrigter het ingestem om as “waarnemend” te dien totdat Namibië se hoëprestasietoelae van Wêreldrugby goedgekeur en van krag word.

“Die voortslepende Covid-19-pandemie het Wêreldrugby se begrotingsproses vir die vierjaarsiklus tot 2023 vertraag. Tot nou toe was ons net op ’n tussentydse noodbegroting aangewese.

“Johan was deel van al die gesprekke met Wêreldrugby en ons het eers einde November goedkeuring gekry en eers verlede week die kontrak van ons kant af geteken. Ons wag nog op ’n kopie wat hulle geteken het.”

Meer oor:  Bedanking  |  Namibië  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.