Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Namibië se WB-plan is in die gedrang

Die Namibiese Rugby-unie (NRU) het vandeesweek gedreig om hom sommer aan volgende jaar se Wêreld­bekertoernooi te onttrek weens sy konflik met die professionele rugbymaatskappy Namibia Rugby Limited (NRL).

Namibië, wat in dieselfde groep as die Springbokke en All Blacks sal meeding, se Wêreld­beker-droom kan aan skerwe lê indien die NRU nie by sy eie ooreenkoms met NRL en Wêreldrugby hou nie. Die twis het vanjaar reeds Namibië sy plek in die Curriebeker se Eerste Liga gekos.

Hendrik van der Westhuizen.Foto: Emile Hendricks

Rapport het vroeër berig hoe die NRU nie sy geldelike verpligtinge teenoor die Eerste Liga kon nakom nie en aan die kompetisie onttrek het.

Spelers het tydens ’n onlangse wedstryd teen die Blou Bulle se Presidentselftal swart armbande gedra as protes teen die NRU.

Die moontlikheid bestaan ook dat Namibië se borge, asook Wêreld-rugby, se borgskappe teruggetrek kan word weens die NRU se onversetlikheid.

Die twis het sy oorsprong uit die feit dat die NRU sy eie afrigter wil aanstel terwyl Wêreldrugby en die borge wil hê die Wallieser Phil Davies moet die span afrig as voorbereiding vir die Wêreldbeker.

Die NRL was verantwoordelik vir ’n sakeplan en om geld te administreer wat deur Wêreldrugby en die span se hoofborg, Nami­bian Breweries, geskenk is.

Die oogmerk was om die nasionale span daarmee voor te berei op die Wêreldbekertoernooi deur deelname aan, onder meer, die Supersport Challenge, African Cup en Curriebeker-reeks.

Die standpunt van die NRU is in direkte konflik met die sakeplan wat ons aan Wêreldrugby voorgelê het.
Die spanborg

Namibian Breweries se bestuurshoof, Hendrik van der Westhuizen, het dit in ’n e-pos duidelik gestel dat Wêreldrugby die nasionale afrigter mag aanstel terwyl die NRU klub- en amateurrugby moet behartig.

Maar tans wil die NRU die nasionale span se afrigter aanstel en van die geld vir ander doeleindes as die span se voorbereiding gebruik.

“Die standpunt wat die NRU ingeneem het – nadat ons die suksesvolste seisoen beleef het en gekwalifiseer het vir WB2019 – was in direkte konflik met die sakeplan wat aan ons as borge en Wêreldrugby voorgelê was.

“Die NRU wil volle beheer oor geld en afrigters hê wat nie deel was van die oorspronklike borgskapooreenkomste nie,” lui die NRL se e-pos.

“Die borge is nou besig om ’n dispuut met die NRL te verklaar.

“Die gevolg daarvan kan tweevoudig wees. Een: Borgskapooreenkomste word in geheel gekanselleer, of twee: Alle geld word bevries totdat die huidige situasie opgelos word.

“Wat nié gaan gebeur nie, is dat die geborgde geld aangewend sal word vir enige aktiwiteite buite die borgskapooreenkomste.”

Hy het gesê dit is dieselfde as wanneer iemand geld by die bank gaan leen om ’n huis te koop en “dit dan aanwend vir ander doeleindes. . . dit werk eenvoudig nie so nie”.

Volgens Van der Westhuizen is die oplossing eenvoudig.

“Die NRL het ’n verantwoordelikheid teenoor die sakeplan. Laat hulle dit uitvoer.

“Indien die NRL onsuksesvol is, beëindig die ooreenkoms en dan kan die NRU weer volle beheer oorneem.”

Die Republikein berig Corrie Mensah, president van die NRU, het in ’n inskrywing op ’n geslote Facebook-groep teen die borge uitgevaar.

Hy beskuldig hulle onder meer van arrogansie en “wit manlike oorheersingsindroom”.

Mnr. Werner Jeffery, uitvoerende lid van die NRU, het Mensah se woorde beaam en oudspelers, soos Jacques Burger, van rassisme beskuldig.

“Die mense dink hulle kan ons met hul geld manipuleer.

“Sodra ons aan die wêreld gewys het dat ons alles volgens die reëlboek doen, sal ons op hulle spring. Hulle moenie die mag van die mense onderskat nie,” het hy aan Die Republikein gesê.

Rapport is ook in besit van ’n brief van NRU-raadslede waarin hulle oudspelers aanval en die voormalige flank van die Weste-like Provinsie en die Stormers Rohan Kitshoff as die voorbok van die verset teen die unie beskuldig.

Die ondertekenaars dreig daarin om Namibië aan die Wêreld­bekertoernooi te onttrek.

Meer oor:  Onttrek  |  Dreig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.