Die Namibiese losvoorspeler PJ van Lill sal wel in die Wêreldbeker-toernooi kan speel nadat sy appèl teen ’n rooikaart, wat hy Saterdag in die opwarmingswedstryd teen die Southern Kings gekry het, geslaag het.

PJ van Lill gaan nie die Wêreldbeker-toernooi weens ’n skorsing misloop nie. Foto: Gallo Images
Van Lill en Thembelani Bholi van die Kings was in die wedstryd in Walvisbaai in ’n struweling betrokke.
As sy rooikaart gestaan het, sou Van Lill weens ’n outomatiese skorsing Namibië se WB-wedstryde teen Italië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland misgeloop het. Dít sou Namibië gedwing het om hom met ’n ander speler te vervang, aangesien hy dan net vir die stryd teen Kanada beskikbaar sou gewees het.
’n Wêreldrugby-tugkomitee het egter bevind dat Van Lill “in die konteks van die besondere gebeure” nie aan vuilspel skuldig was nie.
Die 35-jarige Van Lill, wat slot, flank en agtsteman kan speel, sal in Japan in sy derde WB-toernooi speel. – Reuters