Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Namibiese haker vroeër by Cheetahs
Louis van der Westhuizen is al hard aan die oefen in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Sy kontrak met die Cheetahs sou aanvanklik op 1 November eers in werking getree het, maar dit is intussen gewysig en die Namibiese Wêreldbeker-haker Louis van der Westhuizen oefen reeds fluks saam met sy nuwe spanmaats.

“Ons het die kontrak aangepas dat ek reeds op 1 Julie na Bloemfontein kon trek en inval sodra hulle (Cheetahs) begin oefen het,” sê Van der Westhuizen.

Op 25-jarige ouderdom het dié boorling van Windhoek reeds twee Wêreldbeker-toernooie (2015 en 2019) agter die blad en ’n derde een is beslis in sy visier.

Met net een ander senior spesialis-haker, Wilmar Arnoldi, tans by die Cheetahs gekontrakteer, is Van der Westhuizen se koms soos manna uit die hemel.

Die Cheetahs se gewese breker-haker Joseph Dweba het intussen by sy nuwe span, Bordeaux in Frankryk, ingeval, en dit is vir hóm wat Van der Westhuizen vervang.

Die haker sê hy voel sommer klaar tuis in die Rosestad.

“Ons (hy en sy vrou) geniet dit baie. Bloemfontein is lekker rustig en baie stiller as wat ons aan gewoond was.

Alhoewel ons nog nie almal saam oefen nie, kan ek sien dat ek hier sal kan inpas en aanpas.
Louis van der Westhuizen

“Die manne in die groep maak dit ook baie maklik om in te pas. Almal is baie vriendelik en het my op dag een met ’n glimlag gegroet. Alhoewel ons nog nie almal saam oefen nie, kan ek sien dat ek hier sal kan inpas en aanpas.”

Oor wat die Cheetahs anders maak as die spanne vir wie hy voorheen uitgedraf het (Luiperds en Bulle), sê hy is dit nog te vroeg om al ’n oordeel te vel. Hy sê die grootste rede daarvoor is omdat die span nog nie in spanverband en aan kontakoefeninge deelneem nie.

“Maar dit voel klaar soos ’n omgee-span en dat daar ’n baie lekker gees in die groep is,” sê Van der Westhuizen.

Hawies Fourie, die Cheetahs se hoofbreier. Foto: Gallo Images

En watter doelwitte het hy vir homself gestel?

“Dis maar altyd om myself te verbeter waar ek kan. Om my krag en my fiksheid weer op standaard te kry, soos dit was voor die inperkingstyd.

“En om klein goedjies weer op te skerp soos byvoorbeeld my ingooie en balwerk, wat ’n ou dalk bietjie verloor het en afgeleer het met die lang stilsit.”

Hy sê dit sal lekker wees om na normaal te kan terugkeer, watter normaal dit ook al kan wees en hy sien uit na die afskop van die Curriebeker-reeks.

“Ek dink die hele land wag in spanning daarvoor.”

Nog ’n tweemalige Namibiese Wêreldbeker-speler, die stut Aranos Coetzee, is een van die Cheetahs se groot staatmakers, en hy sal Van der Westhuizen goed kan touwys maak oor hoe dinge in die skrums gedoen word in Bloemfontein.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Namibie  |  Curriebeker  |  Wb-Toernooi  |  Rugby  |  Kontrak  |  Haker  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.