Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nasies-kampioenskap kom, glo Bill

Die wêreldrugbybaas Bill Beaumont sê hy is daarvan oortuig dat ’n aangepaste Nasieskampioenskap in die nadraai van die Covid-19-krisis die lig sal sien.

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, sê hy het onafgehandelde sake waaraan hy wil aandag gee. Foto: Getty Images

Planne vir ’n opspraakwekkende nuwe kompetisie is verlede jaar laat vaar toe Wêreldrugby nie genoeg steun daarvoor kon kry nie.

Beaumont sê dié pandemie is ’n wekroep vir die spel.

“Jy is taamlik dwaas as jy nie dié lesse ter harte neem nie. In die verlede was daar mense wat te beskermend was oor dit wat hulle gehad het,” sê hy.

“Ek dink ons het nou ’n wekroep in die spel gekry. Doen ons dinge op die regte manier? Daar is ’n gevoel dat ’n Nasieskampioenskap met ’n paar verstellings weer ter tafel gelê kan word.”

Daar is met die sogenaamde Wêreldliga-kampioenskap beplan dat die voorste 12 spanne in wêreldrugby mekaar vanaf 2022 een keer per seisoen sal aandurf.

Japan en Amerika sou saam met die Rugbykampioenskap- en Sesnasies-lande aan die kampioenskap deelneem.

Daar was egter groot kritiek oor die uitsluiting van onder meer die Suidsee-eilandspanne – Tonga, Samoa en Fidji.

Ook was daar kommer dat spelers se welstand daaronder gaan ly.

Dit blyk of die tradisionele rugbykalender reeds aan die verander is met die Engelse Rugbyunie (RFU) wat dit oorweeg om in Oktober in Japan te gaan toer voor die November-toetse op Twickenham.

“Ek dink dit is een van daardie situasies waar ons almal saam in die ding is,” sê Beaumont.

“Die tydsberekening is nie goed nie, maar dit is die uitdaging wat ons nou het. Ons moet terselfdertyd bestekopname doen.”

Dié voormalige kaptein van Engeland is hoopvol om aanstaande maand vir ’n verdere vier jaar as voorsitter van Wêreldrugby verkies te word.

Agustin Pichot, oudskrumskakel van Argentinië, is die ander kandidaat. Pichot onderneem om die “ou orde” af te skaf sodat die spel meer inklusief sal wees.

Beaumont sê egter hy het onafgehandelde sake in die posisie. Dit sluit, volgens sy manifes, in dat ’n sterk globale kompetisie vir vlak 2-rugbylande, wat nie deel is van die Rugbykampioenskap en Sesnasies nie, geskep word.

“Ek het ’n enorme passie vir hierdie spel en daar is steeds doelwitte wat ek nastreef, soos die skep van ’n globale kalender,” sê Beaumont. – bbc.com

Meer oor:  Bill Beaumont
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.