Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nederlaag teen All Blacks nie einde

Dit is ’n feit, vertel die rugbygeskiedenis ’n mens, dat ’n span nie die Wêreldbeker-toernooi wen as hy ’n groepwedstryd verloor nie.

Daarom, laat ondersteuners jou hoor, móét die Bokke die All Blacks in hul eerste groepwedstryd op 21 September in Jokohama klop.

Gaan die Bokke die haka twee keer by die Wêreldbeker-toernooi trotseer? Foto: Getty Images

Maar bestudeer ’n mens die loting vir vanjaar se skouspel in Japan, sien jy dat ’n nederlaag in daardie openingswedstryd teen Nieu-Seeland nie noodwendig ’n doodsteek vir die Bokke gaan wees nie.

Teen dié tyd het almal reeds uitgewerk dat die verloorder van daardie wedstryd waarskynlik teen Ierland, tegnies die wêreld se nr. 1-span, in die kwarteindronde sal moet speel. Die wenner sal – as alles volgens die verwagtinge verloop – Skotland pak.

Maar wat baie Bok-ondersteuners dalk nog nie uitgewerk het nie, is dat die wenner van die Bokke se groep waarskynlik vir Engeland in die halfeindronde gaan raakloop.

As die Bokke teen Nieu-Seeland verloor en Ierland in die kwarteindronde klop, sal hulle waarskynlik teen Frankryk, Argentinië, Wallis of Australië in die halfeindronde te staan kom.

As Wallis vir Australië in Groep D klop (wat ’n groot moontlikheid is) en Frankryk verslaan Argentinië in groep C, sal die Bokke dan ’n halfeindstryd teen die Aussies of Frankryk speel – gewis ’n makliker taak as om Engeland op huidige spelpeil aan te durf.

Engeland het verlede maand op Twickenham gewys waartoe hy in staat is toe hy Ierland met 57-15 afgeransel het.

’n Ontmoeting met Ierland in die Wêreldbeker-kwarteindronde is dalk die Springbokke se voorland. Foto: Getty Images

Kortom – as die Bokke die All Blacks klop, speel hulle waarskynlik teen Engeland in die halfeindronde. As hulle teen Nieu-Seeland verloor, pak hulle Ierland in die kwarteindronde, maar daarna is die pad na die eindstryd so ietwat meer gelyk.

Met permutasies kan daar baie dinge verkeerd loop, maar die punt is dat ’n nederlaag in die openingswedstryd teen die All Blacks nie die einde van die wêreld sal beteken nie. In die verlede (soos in 2003) moes die Bokke hul groep wen om ’n kragreus (Nieu-Seeland) in die kwarteindronde te vermy. Hulle het nie en is toe vroeg uitgeskakel.

In 2007 het hulle hul groep gewen en uiteindelik teen Fidji (kwarteind) en Argentinië (halfeind) gespeel onderweg na die eindstryd. Die naaswenner in hul groep daardie jaar, Engeland, het toe die veel moeiliker roete gehad en moes eers met Australië (kwarteind) en Frankryk (halfeind) afreken voor hy sy plek in die eindstryd kon bespreek.

Om vanjaar egter eerste in hul groep te eindig, is nie ’n noodsaaklikheid vir die Bokke nie.

Hoewel Ierland tans die voorste span op die wêreldranglys is, het hy lanklaas die spelpeil opgedis wat hom gehelp het om Nieu-Seeland verlede jaar te klop – twee onlangse seges oor Wallis ten spyt.

Rassie Erasmus, die Bok-breier, het boonop in Ierland afgerig en ken die Ierse spelers goed. Die voormalige Ierse speler Felix Jones is boonop as konsultant betrek, so Suid-Afrika sal voel hy het genoeg ammunisie om die Iere te klop.

Engeland, daarteenoor, lyk daagliks gevaarliker. Eddie Jones berei al sedert 2016 vir vanjaar se WB-toernooi voor. Daar was hoogtepunte en laagtepunte in sy termyn, maar dit wil voorkom of die Rose op die regte tyd hul beste spelpeil vind.

Om hulle dus in die halfeindronde te pak, kan ’n veel groter uitdaging wees as om Ierland in die kwarteindronde, en dan moontlik Australië in die halfeindronde, te takel.

Veral nog as in ag geneem word dat Jones en sy een hulpafrigter, John Mitchell, so goed vertroud is met Suid-Afrikaanse rugby.

Jones het die Bokke in 2007 as konsultant bygestaan en Mitchell was verlede jaar nog die Bulle se hoofafrigter.

Uiteraard is dit vir moraal en momentum nodig om ’n goeie vertoning teen die All Blacks te lewer. Om teen hulle te wen, sal ’n enorme waarskuwing vir die ander spanne uitstuur.

Maar in 2007 het die Bokke die Rose in die groepfase verwoes, waarna Engeland steeds tot die eindstryd deurgedring het.

In 2011 het Frankryk nie net teen Nieu-Seeland in die groepfase verloor nie, maar is hy ook deur Tonga geskok. Tog het hy tot die eindstryd gevorder en met slegs een punt daar teen die All Blacks verloor.

Die openingswedstryd is nie die alfa en omega nie. Dit kan bloot ’n kleedrepetisie vir die eindstryd wees. ’n Eindstryd wat rugbygeskiedenis op sy kop kan keer.

Bokke
Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.