Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Malherbe sê nee vir miljoene, ja vir Bokke

Kaapstad. – Min spelers wys die Franse miljardêr Mourad Boudjellal se miljoene van die hand, maar Frans Malherbe sien ’n groter prentjie as om sy rugby in Toulon te speel.

Hy is pas as die Stormers se medekaptein aangewys en ongeag wie die nuwe Springbok-afrigter gaan wees, sal Malherbe waarskynlik die skrum in die era ná Jannie du Plessis anker.

“Ek het nou die dag vir iemand gesê dat jy nooit seker is van ’n plek in die Bok-groep nie. Vir daardie eer om jou te beurt te val, móét jy jou stempel in die Super-reeks afdruk,” sê Malherbe.

Frans Malherbe

Dis juis ’n kombinasie van sy liefde vir die Groen-en-Goud en die Streeptruie wat Malherbe in die Moederstad gehou het.

“Ek is in dié unie gebore, het hier grootgeword en ondersteun die Westelike Provinsie en Stormers vandat ek rugby begin kyk het. Nie baie spelers het die voorreg om vir die span te speel wat hulle van kleins af ondersteun het nie.”

Daar ook al te veel terug­slae met beserings om te voel sy sake in Suid-Afrika is afgehandel.

“Ek wil nou probeer om ’n verskil te maak ná die beserings wat ek in 2013 en 2014 opgedoen het.

“Dis nog onbekend of Suid-Afrikaners wat oorsee speel vir die Bokke gekies gaan word. Waarop dit eintlik neerkom, is dat ek net hiér wil wees en soveel toetse moontlik vir die Bokke wil speel.”

Malherbe glo nie hy sal swaar dra aan die juk om Juan de Jongh as die Stormers se medekaptein by te staan nie.

“Ek gaan dit omarm en hoop dit haal méér uit my.”

As vaskopstut is hy in elk geval ervare daarmee om met skeidsregters geselsies aan te knoop.

“ ’n Stut kommunikeer baie met die skeidsregter by die skrums. Ons ingesteldheid is om met skeidsregters saam te werk. Ons wil dinge reg doen en ’n verhouding hê waar ons mekaar verstaan,” sê Malherbe.

Terwyl hy nie die naweek teen die Jaguares in aksie was nie, lyk dit of die Stormers se skrumwerk ’n voortsetting gaan wees van wat verlede jaar vermag is.

“Jy moet elke dag op skrumwerk fokus. Ons het verlede jaar goed gevaar, maar moet aanhou om genoeg werk in te sit. Jou skrumkrag gaan hand aan hand met harde werk,” sê Malherbe.

Met die verandering in die Stormers se leierskern is daar ook ’n nuwe bestuurspan en Malherbe werk nou saam met Russell Winter as voorspeler-afrigter.

“Ek geniet vir Russell. Hy’s ’n baie vriendelike, oopkop-ou en tegnies baie goed.”

Wat sy leierstaak betref, meen Malherbe sy kollegas sal sake maklik maak.

“Ek sien daarna uit om met
Juan de Jongh en die ander manne in ons leiersgroep saam te werk. Ons het vir Eben Etzebeth en Siya Kolisi, en Schalk Burger veral sal ’n verskil maak.

“Die jeug in dié span maak my baie opgewonde. Hier is ongelooflike talent.”

Meer oor:  Frans Malherbe  |  Springbokke  |  Toulon  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.