Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nel groet Blitsbokke; sê hallo, Westelike Provinsie

Ruhan Nel, ster van die Blitsbokke, skuif vir eers sewes opsy en sluit hom eersdaags by die Westelike Provinsie en Stormers aan om heeltyds op sy vyftienmanrugby te fokus.

Nel is een van ’n handvol Springbok-sewesspelers wat die korter kode op ’n permanente grondslag vir die langer weergawe van die spel verruil.

Ruhan Nel

Dylan Sage en Mosolwa Mafuma (Bulle), Seabelo Senatla (Stormers) en Kwagga Smith (Leeus) gaan hulle ook nou voltyds tot vyftiens verbind. Daar is sprake dat nog Blitsbokke dié roete kan volg.

Nel is gretig vir ’n proesel Superrugby, om die WP weer te help om die Curriebeker-trofee te verower en wie weet, as alles klopdisselboom verloop, kan die Springbok-trui dalk ook vir hom wink.

“Ek is op daardie punt waar ek voel ek wil weer vyftiens speel,” het Nel in ’n onderhoud met Rapport gesê.

“Dit was nog altyd ’n doelwit van my om Superrugby te speel en ek voel ek het nou die Wêreldreeks met die sewes gewen, twee keer al. Ek het die span in die Statebondspele verteenwoordig en nou ook in ’n Wêreldbekersewestoernooi.

“Dit gaan nou net daaroor om nog doelwitte te bereik, om Superrugby te speel en hopelik deel te wees van ’n wenspan.

“En wie weet, dalk is dit op jou pad en is dit in die sterre geskryf dat ek eendag daardie Springbok-trui oor my kop kan trek. Ek glo dit is ’n droom vir elke jong man om vir die Bokke te speel.

“Nes hulle, het ek ook nog daardie droom en dis iets wat ek wil najaag.”

Maar hy gaan nie heeltemal vir die Blitsbokke verlore wees nie. Daar is immers steeds ’n Olimpiese Spele in 2020 wat hy as sewesspeler wil haal.

Nel gaan egter seker maak dat hy in 2020 se sewesseisoen, nes ’n paar van sy ander spanmaats, aanmeld vir Blitsbok-diens anders loop hy die gevaar om nie vir die skouspel oorweeg te word nie.

Voordat die 27-jarige veelsydige agterspeler aan vyftiens kan dink, wil hy egter die Blitse help om vir ’n laaste keer vanjaar die sewesveld aan die brand te speel.

Hulle het Saterdag vertrek na San Francisco, waar die toernooi beslis word, met groot verwagtinge om nog ’n silwerbeker tot hul trofeekas te voeg.

Neil Powell (Gallo Images)

“Dit sal die kersie op die koek wees op ons jaar as ons hierdie een ook kan wen.”

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, glo sy span sal vroegdag aan die formaat van die toernooi gewoond moet word omdat dit heelwat verskil van die een wat op die sewesreeks gevolg word.

“Dis dadelik in uitkloprondes, sommer van die eerste wedstryd af,” het Powell gesê.

“As jy verloor, is daar geen kans om terug in die beker-afdeling van die kompetisie te kom nie. Ek dink die spanne wat die eerste ronde speel, gaan ’n bietjie van ’n voordeel hê – met die Blitse se eerste wedstryd eers in die tweede ronde.

Meer oor:  Ruhan Nel  |  Westelike Provinsie  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.