Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hendrikse-boeties wou nie bes gee

Dit is glad nie onmoontlik dat daar in die toekoms ’n dag kan kom dat Jordan Hendrikse en sy ouboet, Jaden, die Springbokke se skakelpaar in ’n toets is nie.

Jordan Hendrikse skop pale toe in die onlangse kragmeting tussen die Leeus en Bulle in die Reënboogbeker-reeks in Johannesburg. Foto: Gallo Images
Jaden Hendrikse tydens ’n oefensessie van die Haaie vandeesweek in Durban. Foto: Gallo Images

Rugby bruis immers deur die are van die Hendrikse-boeties, albei boorlinge van Qonce (King William’s Town) in die Oos-Kaap.

Toe die Leeus en Haaie mekaar verlede naweek in ’n kragmeting van die Reënboogbeker-reeks gepak het, was Jordan (19) die Johannesburgers se losskakel en Jaden (21) die Durbaniete se skrumskakel.

Die pad na die nasionale span loop dikwels deur die Junior Bokke, ’n span waarvan Jordan tans deel is. Hulle berei in Stellenbosch voor vir ’n vierhoekige reeks tussen die o.20-spanne van Suid-Afrika, Argentinië, Georgië en Uruguay.

Jordan en Jaden is baie geheg aan mekaar en gesels dikwels oor wat tussen die vier lyne gebeur. Jaden het in 2019 vir die Junior Bokke gespeel en weet wat dit verg om sukses op daardie vlak te behaal.

“My vroegste herinnering aan rugby is toe ek en Jaden begin saam speel het, rondom die ouderdom van sewe of agt toe ons in Schornville Primary School (in Qonce) was,” sê Jordan.

“Ons het altyd van sport gehou, of dit swem, of sokker of watter sport ook al was. Ons het grootgeword in ’n familie waar daar ’n liefde vir sport was – dit is waar die liefde en passie vandaan kom.

My pa (Brian) was ’n beroepsokkerspeler en hy het ons bekend gestel aan die wêreld van sport.

Maar om broers te wees, het nie beteken dat die Hendrikse-broers mekaar nie as kinders in die agtertuin van hul ouerhuis opgekeil het nie. Geeneen wou bes gee nie en albei wou as wenner uit die stryd tree.

“Ons was altyd mededingend in alles wat ons aangepak het. Ons het teen mekaar in die tuin gespeel, of dit krieket was en of ons mekaar geduik het – die mededinging was daar,” sê Jordan.

“Albei van ons wou altyd wen. Dinge was of gelykop, of een sou gewen het. Dan sou ons aangegaan het tot laat in die aand wanneer ons nie meer kon sien nie.”

Vir Jordan, ’n oudleerling aan Glenwood High School in Durban, beteken dit baie vir sy selfvertroue dat hy reeds sy senior provinsiale buiging gemaak het. En, vertel hy, hy was heel verbaas dat dié eer hom te beurt geval het.

“Dit het my baie geleer in terme van my geloof in my vermoëns. Dit het baie vinnig en onverwags met my gebeur. Maar dit is hoe die lewe werk. Enigiets kan gebeur,” sê hy.

“Sover het ek baie as speler geleer, ek het baie ontwikkel. Nie net om in myself te glo nie, maar ook om besluite te neem.”

• Die Junior Bokke se eerste kragmeting is op 18 Junie teen Uruguay in die Eikestad.

Meer oor:  Jordan Hendrikse  |  Haaie  |  Leeus  |  Junior Bokke  |  Jaden Hendrikse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.