Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Nie móói nie, maar kyk na telbord'
Vreugde is . . . ’n trofee om te vier. Die Exeter Chiefs is Saterdag in ekstase ná hul oorwinning in die Europese Kampioenebeker-eindstryd oor Racing 92 van Frankryk. Foto: Getty Images

Rob Baxter, die Exeter Chiefs se direkteur van rugby, kon beswaarlik sy emosies beteuel nadat die rugbyspan Saterdag die Europese Kampioenebeker verower het deur Racing 92 met 31-27 te klop.

Die Engelse Premierligaklub is met dié oorwinning vir die eerste keer in die geskiedenis as die Europese klubkampioen gekroon.

“Sjoe, dit was omtrent ’n warboel van emosies. Snaakse spel, nie waar nie? Dit was glad nie Exeter se soort wedstryd nie, maar tog het ons gewen.

"Ons het gesukkel om by die wedstrydplan te hou. Maar nou ja, daar het jy dit nou. Dis moeilik om my emosies onder beheer te kry,” het Baxter ná die senutergende oorwinning gesê.

Exeter dra die kroon skaars ’n dekade nadat hy promosie tot die Premierliga gekry het.

Maklik was die oorwinning op Ashton Gate in Bristol egter nie.

Nigel Owens

Die Engelse span en sy Franse teenstander het albei vier drieë gedruk en die oorwinning is uiteindelik in die doodsnikke beklink toe Chiefs se kaptein, Joe Simmonds, ’n strafdoel oorgeklits het.

Ná die skop was daar egter ’n paar senutergende oomblikke, met wedstrydbeamptes wat moes besluit of spel hervat moet word en of Nigel Owens, die skeidsregter, maar die eindfluitjie kan blaas.

Die dawerende stilte in die leë stadion, met geen toeskouers wat weens die koronavirus-pandemie toegelaat is nie, is oomblikke later verbreek toe Owens inderdaad die einde van die wipplankstryd met ’n skril blaas van sy fluitjie aangekondig het.

Geen wonder Baxter, ’n sentrale figuur in die Chiefs se meteoriese opgang die afgelope paar jaar, se senuwees was op hol nie.

“Dit was die mooiste geluid, daai fluitjie,” het hy aan verslaggewers gesê.

“In sommige opsigte is ons swakste aanvalle en goorste verdediging die hele seisoen in die wedstryd gesien.

“Maar elke keer wat ons onder druk geplaas is, het ons teruggeslaan. Ons het die eindstryd met vier punte gewen en dit wat op die telbord staan, is wat ondersteuners vir die volgende drie, vier jaar sal onthou. Nie hoe daardie telling bereik is nie.

Dit wat op die telbord staan, is wat ondersteuners vir die volgende drie, vier jaar sal onthou. Nie hoe daardie telling bereik is nie.
Rob Baxter

“Dit was ons heel eerste halfeindstryd en eindstryd in die Europese kompetisie en ons het albei gewen. Dit beteken die wêreld vir die spelers,” het Baxter gesê.

Die Parysenaars het vir die derde keer sedert 2016 oor die laaste hekkie gestruikel. Fatale foute op kritieke tye was dié keer Racing se ondergang.

Die skrumskakel Teddy Iribaren en sy Skotse skakelmaat, Finn Russell, was die skuldige partye, met die losskakel wie se swak aangee tot ’n onderskepdrie vir die Chiefs gelei het.

Racing se direkteur van rugby, Laurent Travers, het egter geweier om die vinger na enige van sy spelers te wys.

“Daar is ’n wenner. Nie die een wat ons wou gehad het nie, maar dit help nie om agterna te sê dis dié speler of daardie speler se skuld nie.

“As jou span wen, skryf jy dit toe aan ’n spanpoging. As jou span verloor, dan aanvaar jy as span verantwoordelikheid. Dis wat ons sterk maak, daardie eenheid,” het Travers gesê.

Die Exeter Chiefs se Jonny Hills word deur Racing se Wenceslas Lauret vasgevat in Saterdag se eindstryd in Bristol. Foto: Reuters

Exeter sal slegs die vierde Engelse klub nóg word om die gesogte dubbel te behaal as hy aanstaande Saterdag in die eindstryd van die Premierliga met die Wasps op Twickenham kan afreken.

Hieraan dink Baxter nog nie.

“Nee, ek sal eers Maandag die moontlikheid oorweeg. Al wat ons nou gaan doen, is om die Europese kroon te vier. Die ouens gaan ’n hele paar yskoue en welverdiende biere in die kleedkamer drink en die oorwinning geniet.

“Maar ek sou wel reken as ons met ’n ondergemiddelde vertoning steeds teen Racing bo kon uitkom, sal ons met ’n beter vertoning teen die Wasps ’n goeie kans staan,” het Baxter bygevoeg. – Reuters

Meer oor:  Laurent Travers  |  Rob Baxter  |  Engeland  |  Frankryk  |  Racing 92  |  Eindstryd  |  Euroepese Kampioensbeker  |  Exeter Chiefs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.