Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spelers: Almal moet Covid-19-juk saam dra

Suid-Afrika se beroepsrugbyspelers lyk gereed om opofferings te maak, maar nie sonder dat werknemers van rugbyunies saam met hulle aan die finansiële juk dra wat die Covid-19-pandemie die spel toegedien het nie.

Pieter-Steph du Toit sê in ’n nuusverklaring deur MyPlayers dat as almal in die rugbybedryf dieselfde opofferings maak, sal die krisis die hoof gebied kan word. Foto: Gallo Images

Dit blyk hul benadering te wees tot ’n bedryfsbesparingsplan wat voortgespruit het uit vergaderings tussen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, MyPlayers, wat die beroepspelers verteenwoordig, die werknemers se vakbond, Sport Employees Unite, en die Suid-Afrikaanse Rugbywerkgewersvereniging.

Daarin word onder andere glo melding gemaak van salarisverminderings, hoewel die persentasie nog uitgewerk moes word.

“Dis moeilik om te weet dat ons waarskynlik opofferings gaan moet maak, maar as almal in die bedryf se bydrae op dieselfde vlakke is, behoort ons deur te druk,” het Pieter-Steph du Toit, Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Donderdag in ’n nuusverklaring gesê.

MyPlayers het die kwessie Dinsdag onder oë geneem en ’n komitee spelersverteenwoordigers het besluit dat ’n kollektiewe benadering tot onderhandelinge gevolg moet word. Al Suid-Afrika se beroepspanne is Woensdag in aanlyn vergaderings oor die kwessie en benadering ingelig.

Ons het twee opsies. Ons kan individuele spelers met hul unies laat onderhandel oor salarisverminderings, maar dit kan uitbuiting op individuele en groepvlak tot gevolg hê, sal tydrowend wees, en dalk unies en franchise-spanne in ’n finansiële posisie plaas waarvan hulle nie kan herstel nie.
Chris van Zyl, die Stormers se verteenwoordiger


“Die tweede opsie is om ons saak kollektief te stel, met volhoubaarheid in gedagte. Dít is die beste opsie. Dit is moeilike besluite, maar dis wat moeilike tye verg.”

Warren Whiteley, ’n voormalige Springbok-kaptein van die Leeus, sê die oorlewing van die bedryf moet die doel voor oë wees en die kwessie moet kollektief aangepak word.

“Ons het in onlangse jare deur ’n kollektiewe benadering berge versit. Covid-19 plaas ons voor ’n groter uitdaging as ooit vantevore. Hoe moeilik hierdie besluite ook al is, glo ek vas dat ons op die beste benadering besluit het,” sê hy.

Terwyl daar nog besluit moet word op ’n moontlike persentasie vir verminderings, kan die Ierse model van besnoeiings op ’n glyskaal, afhangend van hoeveel spelers en personeel verdien, straks die beste pad vorentoe wees.

Die Iere se skaal wissel van 10% tot 50%, wat beteken dat daar beskerming is vir werknemers en spelers wat min verdien. Dit het die Ierse Rugbyunie ook in staat gestel om werksekerheid aan personeel te gee.

Soos sake tans staan, met geen rugby wat gespeel en uitgesaai word nie, is daar geen inkomste uit die spel nie, wat besnoeiings onvermydelik maak.

Suid-Afrika se belanghebbendes het dié kwessie tot dusver sonder strydbyle aangepak, maar die ware toets vir daardie eenheid lê nou voor.


Terwyl MyPlayers nou ’n mandaat het om namens die spelers te onderhandel, sal enige voorstel wat daaruit voortspruit deur die liggaam van spelersverteenwoordigers oorweeg word. Die voorstel sal dan amptelik deur hulle goedgekeur of verwerp word.

* ’n Kwessie wat ook om die onderhandelingstafel aangeroer kan word, is unies se betalings aan verkose beamptes, die sogenaamde “baadjiedraers” wat deur klubs tot hul poste verkies word. Dit kan vir ongelukkigheid onder gewone werknemers van unies sorg indien betalings en toelae aan die verkose beamptes nie gesny word nie.

Meer oor:  Myplayers  |  Koronavirus  |  Toetsrugby  |  Superrugby  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.