Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nie rugbybase se skuld, sê Dobson

John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, het Saterdagaand daarvan weggeskram om die administratiewe chaos agter die skerms in die Kaapse rugbyunie vir sy span se swak Curriebeker-veldtog te blameer.

Ruhan Nel van die WP probeer uit die Vrystaat-losskakel, Tian Schoeman, se greep ontsnap in Saterdag se Curriebeker-wedstryd in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Ons moet verantwoordelikheid neem vir wat op die veld gebeur, maar dit was ’n uitdagende jaar vir die unie,” het Dobson diplomaties geantwoord toe hy ná sy span se nederlaag van 33-38 teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein oor die kwessie uitgevra is.

Die WP het voor afskop nog ’n kans gehad om vir die halfeindronde te kwalifiseer, maar het ’n voorsprong van 33-12 vroeg in die tweede helfte weggesmyt om die knie voor die begeesterde Blikore te buig.

“Baie krediet moet aan die Cheetahs gaan. Hulle het ons in kontak begin oorheers en het die wen verdien. Ons kon nie ons hande op die bal kry nie. Dis teleurstellend om ’n wedstryd waarin jy ’n voorsprong van 21 punte gehad het te verloor,” sê Dobson.

Sy kaptein, Chris van Zyl, het dit onmiddellik ná die wedstryd as “naby aan die laagtepunt” van sy loopbaan beskryf. Hy meen die Streeptruie het duur betaal vir hul swak skopwerk uit die hand om druk te probeer verlig.

“Ons het só vir hulle twee drieë gegee. Was ons meer klinies en effektief sou die Cheetahs met rustyd in hulself getwyfel het,” sê hy.

Die WP eindig sy veldtog met twee wenne en vier nederlae. Al sy nederlae was met vyf of minder punte, wat vraagtekens agter die span se sielkundige stoffasie plaas.

Dobson moes wel gedurende die veldtog die oorlog op verskeie fronte veg met die unie se gesloer met die kontrakteringsproses wat ’n yslike gemors was. Die WP het daardeur kwesbaar geraak vir ander unies wat sy spelers wou wegrokkel.

Damian Willemse het vir die Westelike Provinsie ’n goeie vertoning op losskakel gelewer, maar sy beste poging kon nie ’n nederlaag afweer in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein nie. Foto: Gallo Images

Tot watter mate onsekerheid onder spelers na hul vertonings oorgespoel het, is ’n ope vraag. Só duidelik soos daglig egter was dat die span vanjaar aan die vrygeestigheid en genot ontbreek het wat vroeër seisoene onder Dobson se afrigting gekenmerk het.

Selfs met die hernuwing van topspelers se kontrakte voorspel die Streeptruie se tegniese tekortkominge niks goed vir die Stormers se Superrugby-veldtog aanstaande jaar nie.

Saterdag se wedstryd het beklemtoon dat iets groot met die Streeptruie se verdediging skort. Hulle word gemaklik geklop met binneaangeë en selfs spelers wie se hardlooplyne van myle af gesien kan word.

Selfs op die aanval word daar meestal staatgemaak op die individualiteit van spelers eerder as dat daar stelselmatig iets geskep word.

Die gebrek aan leierskap in die middelveld is ooglopend en dié Curriebeker-veldtog het soos vanjaar se Superreeks beklemtoon dat Ruhan Nel op buitesenter nog nie ’n doeltreffende oorgang van sewesrugby na die vyftienmankode gemaak het nie.

Buitesenter is ’n posisie wat versterk sal móét word, want ’n man met ’n nr. 13 op sy rug moet leiding op die verdediging kan gee.

Dobson sal ook ’n plan moet beraam om ’n speler vir sy agterste driehoek te vind wat takties kan skop en om sy diepte op skrumskakel aan te vul.

* Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 38 (12): Drieë: William Small-Smith, Joseph Dweba, Tian Meyer, Darren Adonis, Ox Nche, Jasper Wiese. Doelskoppe: Tian Schoeman (4).

Westelike Provinsie 33 (26): Drieë: Wilco Louw, Dillyn Leyds, Scarra Ntubeni. Doelskoppe: SP Marais (3). Strafdoele: Marais (4).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Wp  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.