Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Niel gereed vir Cheetahs as nood druk

Die Cheetahs se eerstekeuse-losskakel, Niel Marais, het vinniger van sy skoueroperasie herstel as wat verwag is en kan moontlik vanjaar reeds weer op die veld gesien word.

Die Cheetahs se losskakel Niel Marais het herstel van sy skoueroperasie en kan reeds vandeesmaand sy terugkeer tot die veld maak, sou die span hom nodig hê. Foto: Gallo Images

Marais het sy skouer ontwrig in die Curriebeker-wedstryd teen die Pumas op 9 Augustus vanjaar in Nelspruit en daar is aanvanklik verwag dat hy in Januarie op die vroegste sy terugkeer tot die veld sou kon maak.

Daar is nou egter sprake dat hy reeds op 24 November óf 2 Desember ingespan kan word sou die nood daar wees om hom te gebruik.

“Ek het verlede Donderdag die spesialis gaan spreek en hy is tevrede met my herstel en sê as die Cheetahs my nodig het, kan ek speel, maar as ek nog kan rus, is dit ook goed.

“Ek het ook met die Cheetahs se mediese span gepraat en hulle weet ek is gereed om te speel, maar ook hulle sal verkies dat ek eers in Januarie my terugkeer maak,” sê Marais.

Die Cheetahs speel op 24 November teen Edinburgh en op 2 Desember teen die verdedigende kampioen, die Scarlets. Albei die wedstryde word in Bloemfontein beslis.

Marais sê hy sien daarna uit om sy Pro14-buiging te maak.

“Dit was frustrerend om te sien hoe die ouens in die Pro14-speel en ek kon nie deel wees daarvan nie. Die oorwinnings wat ons behaal het, het daardie frustrasies ietwat minder gemaak.”

Volgens Marais is hy beïndruk met hoe mededingend die reeks is. “Die reeks is besaai met internasionale sterre en ek dink ons het goed gevaar om sover vier uit agt wedstryde te wen.

“Ek sal myself baie graag wil toets teen die spelers in die reeks en hopelik kry ek binnekort die geleentheid om dit te doen,” sê hy.

Indien Marais eers volgende jaar ingespan word, sal hy moontlik op 6 Januarie in ’n wegwedstryd teen Treviso sy buiging maak.

Hy oefen al ’n geruimte tyd op sy eie, maar sal Woensdag saam met die vergrote Cheetah-groep inval wanneer hulle met hul voorbereiding vir die Edinburgh-stryd begin. Hy sal vir eers egter nie aan kontak-oefeninge deelneem nie.

* Intussen het die 22-jarige losskakel Robbie Petzer, wat vanjaar inderhaas by die Vrystaat-Cheetahs se Curriebeker-veldtog en later die Pro14-reeks betrek is, koers na die Suidwestelike Distrikte (SWD) in George gekies.

Hy het reeds verlede Maandag by die Arende ingeval en oefen volstoom saam met die Suid-Kaapse span.

“Ek het ’n kontrak van ’n jaar met SWD gesluit. Vrystaat het baie losskakels en hulle kon my ook nie meer iets (kontrak) bied nie. Dit is ’n goeie geleentheid vir my en ek wil dit gebruik,” sê Petzer.

Petzer, wat verlede jaar nog vir die Griffons se o.20-span gespeel het, het ook ná sy koms na die Vrystaat vir die provinsie se o.21-span uitgedraf.

* Die vleuel Sibahle Maxwane (22) van die Blou Bulle meld hom vandeesweek by die Cheetahs vir ’n proeftydperk aan.

Dit volg nadat Sergeal Petersen en Raymond Rhule hulle aan die begin van die maand by die Stormers aangesluit het, terwyl nog ’n vleuel, Makazole Mapimpi, hom in Januarie by die Haaie se Superrrugby-reeks aansluit.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.