Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nienaber ‘nommerpas-opvolger’

Die voormalige Springbok-losvoorspeler Francois Louw meen Suid-Afrikaanse rugby sal die vrugte pluk van die kontinuïteit wat bewerkstellig is deur die oorgang van Rassie Erasmus na Jacques Nienaber as Springbok-afrigter.

Francois Louw word vasgevat in die eerste Superrugby-wedstryd – vir die Stormers teen die Bulle op Nuweland op 16 Februarie 2008 – wat hy onder Rassie Erasmus se afrigting gespeel het. Foto: Gallo Images

Erasmus, wat die rol van 2018 tot 2019 se Wêreldbeker-toernooi vervul het, spits hom nou op sy rol as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby toe. Hy gaan egter steeds nou betrokke bly by die Bok-span.

Gevolglik behoort die Bokke se strukture en spanopset nie veel anders te wees as die laaste paar seisoene nie.

“Dit is die punt,’” het Louw aan Netwerk24 gesê.

“Dit behoort nie anders te wees nie. Jy moet uiteraard as ’n professionele span ontwikkel en byhou by tendense in die spel, maar dit behoort nie anders te wees nie.”

Louw (35) se loopbaan as Superrugby-speler by die Stormers het in 2008 begin met Erasmus in die rol van hoofafrigter en Nienaber as hoof van fiksheid en kondisionering.

Jacques Nienaber, Bok-afrigter, Francois Louw en Faf de Klerk vroeër vanjaar by die Laureus-prysuitdeling in Berlyn. Foto: Getty Images

Louw was ook daar toe Nienaber in 2010 die eerste treë gegee het om hom as een van die gedugste verdedigingsafrigters ter wêreld te vestig.

In 2010 het die Stormers in 13 ligawedstryde slegs 17 drieë afgestaan, in 2011 was dit 18 in 16, en in 2012 was dit 21 in 16. Nienaber se reputasie het daarna die hoogte ingeskiet en hy het Erasmus ook in sy rolle by Saru en die Ierse streekspan Munster bygestaan.

“Ek is baie bly vir Jacques dat hy as Bok-afrigter gaan oorneem. Ek weet hoeveel dit vir hom beteken en hy het die kundigheid en eienskappe om daardie rol te vervul,” sê Louw.

Francois Louw spog met die Webb Ellis-trofee gedurende die Bokke se trofee-toer ná die verowering van die 2019 Wêreldbeker in Japan. Foto: Gallo Images

“Uiteraard gaan hy en Rassie, soos hulle die afgelope dekade en ’n half gedoen het, nou saamwerk. Niks gaan in daardie opsig verander nie.”

Vir Louw is dit belangrik dat die Bokke voortbou op die momentum van ’n proses wat in 2018 begin het en die weg gebaan het vir verlede jaar se Wêreldbeker-triomf.

“Ek dink ons gaan dit deur Jacques kry,” sê hy.

“Dit gaan meer van dieselfde wees en sal hier en daar aangepas word om spesifieke uitdagings te oorkom.”

Louw is baie bly dat hy sy toetsloopbaan onder Erasmus en Nienaber kon afsluit.

“Vir my het alles by Rassie en Jacques begin. Ons het in verskillende rigtings oorsee getrek, maar om terug te kom en onder hulle klaar te maak, is ’n volle sirkel. Dis baie spesiaal,” sê hy.

“Rassie en Jacques was nie net my afrigters nie, maar is ook goeie vriende. Dit is wat ’n mens op die ou end wil hê.”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Bokke  |  Springbokke  |  Francois Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.