Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nienaber: Pro16 gaan Bokke brei vir 2023-WB
rugby
Die Franse akteur Jean Dujardin tydens die loting vir die WB-toernooi in 2023. Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, se gesig op ’n videoskerm is links agter sigbaar.

Vanuit ’n Springbok-perspektief het dit beslis gevoel of die wêreldkampioene effe aan die kortste ent getrek het toe die loting vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi Maandagmiddag in Parys, Frankryk, gedoen is.

Die Springbokke bevind hulle nie net in ’n sogenaamde “Groep van die Dood” saam met Ierland en Skotland nie, maar het boonop die vooruitsig om dalk teen Nieu-Seeland of die gasheerland, Frankryk, in die kwarteindronde te speel.

Maar hokaai, sê Jacques Nienaber, die Bok-rugbyspan se afrigterr, ons durf nie verder as die vier groepwedstryde kyk nie. Suid-Afrika se ander twee teenstanders moet nog deur kwalifiserende wedstryde bepaal word.

“As jy kyk na die gehalte van die spanne in die groep, dink ek nie dis die regte ding om nou al aan die kwarteindronde en uitkloprugby te begin dink nie,” het Nienaber kort ná die loting op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“Asië/Suidsee 1 is ook in die groep, wat kan beteken dat ons boonop nog teen Tonga of Samoa sal moet speel.

“Ons fokus gaan grootliks op die volgende drie jaar wees. Ons gaan ’n sterk groep met baie ervaring nodig hê om deur daardie groep te kan vorder. Die fokus sal daarop wees en dan kan ons die groepwedstryde vat soos hulle kom.”

Daar moet nog op wedstrydbepalings besluit word en wie teen wie in die kwarteindronde gaan speel afhangende van waar hulle in groepe eindig, is nog nie bekend nie.

In die vorige toernooi was dit egter die wenner van Groep A teen die naaswenner van Groep B, wenner van Groep B teen die naaswenner van Groep A, wenner van Groep C teen die naaswenner van Groep D, en wenner van Groep D teen die naaswenner van groep C.

Nieu-Seeland en Frankryk is in Groep A, en Suid-Afrika in Groep B.

Die feit dat die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers volgende jaar in die uitgebreide Pro16-reeks gaan speel, kan vir Suid-Afrika ’n voordeel wees, meen Nienaber.

Hy was die Ierse span Munster se verdedigingsafrigter voordat hy saam met Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, na Suid-Afrika teruggekeer het.

“Toe ons daar begin afrig het, was ek verbaas oor wat ek in die Pro12-reeks ervaar het. Dis seker een van die kompetisies met die kwaaiste mededinging by die vaste fasette, afbreekpunte en ten opsigte van vaardigheidsvlakke is,” sê Nienaber.

“Dit gaan ’n groot aanpassing vir ons spelers wees in terme van taktiek, weerstoestande, speeloppervlakke en skeidsregters van verskillende lande wat jy moet bestuur. Ek dink dis baie naby aan toetsrugby so ek is baie opgewonde dat ons spelers in ’n Pro16-reeks gaan speel.”

Ofskoon dit waarskynlik nie die loting is wat Nienaber graag sou wou gehad het nie, sê hy dit gee die Bokke ’n “einddoelwit” om mee te werk.

“Om in dieselfde groep as Ierland en Skotland te wees, is ’n yslike uitdaging, maar om die toernooi te kan wen, moet jy al die spanne kan klop,” sê hy.

“As jy kyk na die voorste drie spanne in elke groep, sou ek sê dat enige van daardie spanne ’n ander op enige gegewe dag kan klop. Dit is bewys deur Japan, wat in onlangse jare groot opgang gemaak het.”

rugby
Garfika24

• Die Bokke en Ierland sal in Frankryk die eerste keer in ’n WB-toernooi met mekaar kragte meet.

• Terwyl Frankryk se teenstander vir die openingswedstryd nog bepaal moet word, sê Fabien Galthie, die Hane se afrigter, dat hy geensins sal omgee om teen die All Blacks af te skop nie. Die Franse het in 1999 en 2007 se Wêreldbeker-toernooie vir groot opskuddings gesorg deur die Kiwi’s in onderskeidelik die half- en kwarteindronde uit te skakel.

“Waarom nie? Die All Blacks speel pragtige rugby en dit sal só opwindend wees. Ons is lief vir die All Blacks. Almal is lief vir die All Blacks,” sê Galthie.

Frankryk en die All Blacks was in 2011, toe die toernooi in Nieu-Seeland aangebied is, ook in dieselfde groep. Albei spanne het daardie jaar die eindstryd gehaal, wat die Kiwi’s uiteindelik op naelskraapse wyse gewen het. 
Meer oor:  Skotland  |  Bokke  |  Rugbywêreldbeker  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Ierland  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.