Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nienaber wil hou by Rassie se bloudruk

Kontinuïteit sonder ontwrigting.

Dít het die swaarste geweeg toe Jacques Nienaber as die Springbokke se nuwe hoofafrigter aangestel is.

“Ons moes doen wat die beste vir die Springbokke is,” het Rassie Erasmus, Nienaber se voorganger en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, Vrydag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Dit is duidelik dat Erasmus, die hoofbreier wat die Bokke verlede jaar tot Wêreldbeker (WB)-glorie gelei het, steeds nou betrokke sal wees by die span en dat Nienaber by dié bloudruk sal bly.

Geluk, ou maat! Rassie Erasmus wens Vrydag se opvolger, Jacques Nienaber, geluk met sy aanstelling. Foto: Deean Vivier

Deon Davids, oudbreier van die Kings, is ’n nuwe gesig in die afrigtingspan en neem die voorspelerportefeulje by Matt Proudfoot, nou ’n lid van Engeland se afrigterskorps, oor.

Die Ier Felix Jones, wat ’n konsultant vir die span by die WB-toernooi was, is nou een van die hulpafrigters, terwyl Daan Human as ’n skrumkonsultant aangestel is.

Dit is ’n lekker uitdaging. Transformasie word steeds voorop gestel en ons moet diepte in die groep skep. Maar bo alles gaan daar van my verwag word om die wenkultuur voort te sit.
Jacques Nienaber

Erasmus sê dit sou onmoontlik wees vir hom om volhoubaar op albei rolle (hoofbreier en direkteur van rugby) te fokus.

“Dit gee my nou die vryheid om meer strategies te dink. En die plan is glad nie dat dit administratiewe kantoorwerk is nie,” sê hy.

“Ek wil toesien dat al die nasionale spanne bemagtig is om te presteer en dat ons stelsel aan die behoeftes wat Suid-Afrikaanse rugby het, kan voldoen.”

Nienaber (47) sê hy gaan hou by die strategiese doelwitte wat hy en Erasmus gevestig het toe Allister Coetzee in 2018 as afrigter vervang is.

“Dit is ’n lekker uitdaging. Transformasie word steeds voorop gestel en ons moet diepte in die groep skep. Maar bo alles gaan daar van my verwag word om die wenkultuur voort te sit.”

Erasmus is gevra waarom sy pos nie geadverteer is om vas te stel hoeveel internasionale belangstelling daar is nie.

“Ek is seker daar is iemand daar buite wat waarskynlik ’n beter taak sou kon verrig. Dit is as jy die geld en ses of sewe maande het om navorsing te doen en die regte man te kry. Ek dink egter Jacques sal ’n uitstekende hoofafrigter wees.”

Mark Alexander, Saru se president, is dit met Erasmus eens dat hulle raakgevat het met Nienaber se aanstelling.

“Dit is die eerste keer dat ons kontinuïteit het ná ’n WB-jaar. Gewoonlik is daar ’n nuwe afrigter, wat met ’n nuwe stelsel en planne inkom. Dit vat altyd lank vir almal om gevestig te raak,” sê hy.

“Ons is in daardie opsig in ’n gunstige posisie vanjaar en daar is volle vertroue dat die afrigtingspan die regte een is om ons na 2023 se WB-toernooi te neem.”

Erasmus het benadruk hy gaan ’n volwaardige lid van Nienaber se binnekring wees.

“Ek sal nou betrokke wees by goed soos strategie en spankeuses. My verantwoordelikheid teenoor die Springbokke bly dieselfde en dit is om te wen,” sê hy.

“Dit gaan alles oor die Bokke en wat in die span se beste belang is. As die span nie wen nie, sal ek verantwoordbaar gehou word. Dit is immers ek wat die voorstel gemaak het (dat Nienaber hom opvolg).”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Mark Alexander  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Pretoria  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.