Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Niks mooi of oortuigend aan Bul-sege

Die tweestryde in Kaapstad en Pretoria Saterdag in die Reënboogbeker-kompetisie, is beskou as Suid-Afrikaanse rugby se simboliese en amptelike wortelskiet in die Noordelike Halfrond.

Die Bulle en die Leeus se buiging op Loftus Versfeld sal egter gou vergete wees.

Die Bulle-losskakel Chris Smith duik vroeg in Saterdag se kragmeting met die Leeus oor vir ’n drie, met Stean Pienaar te laat om te keer. Foto: Gallo Images

Vir die rekord: Die tuisspan het die ontmoeting met 24-9 gewen. Maar dit was hoegenaamd nie mooi of oortuigend nie.

Dit was eers nadat plaasvervangers soos Morné Steyn, Zak Burger, Arno Botha, Jacques van Rooyen en Lizo Gqoboka in die tweede helfte ontplooi is, wat die Bulle hul voorsprong na agt punte, en kort voor die eindfluitjie geblaas het, na 15 punte kon rek.

Die hoogtepunt van die eerste helfte het in die tweede minuut gekom, toe die Bulle-losskakel, Chris Smith, danksy vrygewige verdediging van die Leeus deurgesny het vir sy span se eerste drie.

Die res van die helfte het ongelukkig grotendeels hope omgekeerde besit en swak afronding opgelewer.

Waar die Stormers en die Haaie vroeër die dag op hul stukke was, was die Gautengse bure verroes en vol foute.

Aan die positiewe kant, die Leeus het met tye goed daarin geslaag om die tuisspan se rolmale naby hul doellyn te stuit. En albei spanne se verdediging was skaflik.

Dit gesê, die telling moes groter gewees het (in die Ligbloues se guns).

Drie van die Bulle se “drieë” is omgekeer nadat die TV-skeidsregter, Marius van der Westhuizen, gevra is om ondersoek in te stel.

’n Aanslaan, obstruksie en ’n skewe ingooi by ’n lynstaan het die vyfpunters ongedaan gemaak.

Die Leeus, minus ’n hele paar senior manne, het op die oog af gelyk na ’n jong, ongevestigde span wat kan aftjop teen die Bulle.

Maar gee lof waar dit toekom: die besoekers was enduit in die wedstryd op ’n dag wat die Ligbloues duidelik van stryk af was.

Jake White, die Bulle-breier, was ooglopend nie in sy noppies met die vertoning nie. Oor een ding kan hy egter verlig wees: dit is altyd ’n goeie teken wanneer jy die dag nie naby jou beste is nie, maar steeds aan die wenkant is.

Watter spelers het hul Springbok-aanspraak ’n hupstoot gegee?

Geen verrassing nie, Marco van Staden.

Dié klipharde baljagter het, soos ons al daaraan gewoond geraak het, weer groot skade aangerig by die afbreekpunte en dit bly ’n raaisel dat hy oënskynlik in onguns is in die Bok-binnekring.

Hy verdien nie dié koue skouer nie.

Sy flankmaat, Elrigh Louw, raak stadigaan ’n bielie by Loftus en hy behoort beslis iewers vorentoe vir toetsrugby in aanmerking te kom.

• Puntemakers:

Bulle 24 (10): Drieë: Chris Smith, Zak Burger, Elrigh Louw. Strafdoel: Smith. Doelskoppe: Smith, Morné Steyn (2).

Leeus 9 (6): Strafdoele: Fred Zeilinga (3).

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.