Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nkosi sê hy moet sokkies optrek
Die Springbok-vleuel Sbu Nkosi staal hom vir ’n lugaanval deur die Franse skoppers.Foto: Gallo Images

Dit gebeur nie sommer dat ’n rugbyspeler op ’n mediakonferensie bieg hy het ’n swak wedstryd gespeel nie. En nog minder as die meeste waarnemers dit boonop eens was dat hy ’n meer as skaflike vertoning gelewer het.

Toe die Springbok-blits Sbu Nkosi dié week dus te kenne gee hy sal sy sokkies moet optrek in die toets teen Frankryk, het hy ’n paar rugbyskrywers onkant betrap.

Hy was dan juis een van Bokke wat uitgeblink het teen Engeland op Twickenham?

“Nee, nie noodwendig nie. Ek het in ’n paar afdelings van my spel tekortgeskiet en die toets teen Frankryk is ’n nuwe kans om ’n paar verstellings te maak,” het die jong vleuel van die Haaie gesê.

Nkosi kom Saterdagaand teen Damian Penaud, seun van die oud-Haan Alain Penaud, te staan.

Dié vleuel van Clermont Auvergne word as een van die nuwe generasie Franse sterre beskou.

Volgens Nkosi, wat in slegs sy vyfde toets speel (sy eerste teen Frankryk), het die Franse in die Junie-toetsreeks teen die All Blacks gelyk na ’n span wat aanvallend wil speel.

Gegewe die reënvoorspelling vir Parys, sal die tuisspan na verwagting afwyk van dié benadering.

As hulle wel meer gaan skop, sal ons daarby moet aanpas en dit gaan op dié vlak oor hoe jy reageer op ’n taktiek wat jy nie verwag het nie.
Sbu Nkosi

“As hulle wel meer gaan skop, sal ons daarby moet aanpas en dit gaan op dié vlak oor hoe jy reageer op ’n taktiek wat jy nie verwag het nie.”

Rassie Erasmus, die hoofafrigter, sal met Willie le Roux terug in die Springbokke se agterste drie, groter gemoedsrus hê in die opsig.

Erasmus het intussen verklap dat hy in sy beplanning vir die Wêreldbeker-toernooi nie beoog om veel meer oorsese spelers te betrek nie.

Le Roux (Wasps), Gio Aplon (Toyota Verblitz), Cheslin Kolbe (Toulouse), Faf de Klerk (Sale Sharks), Duane Vermeulen (Kubota Spears), Francois Louw (Bath), Franco Mostert (Gloucester) en Vincent Koch (Saracens) is tans die oorsese spelers in die toergroep.

“Daar is nou 36 spelers in ons groep en vir die Wêreldbeker-toernooi kan jy net 31 kies. Daar is ’n paar beseerde spelers by die huis, so van die ouens gaan in die slag bly volgende jaar.

Pat Lambie is een van die oorsese Bokke wat dalk nog volgende jaar Rassie Erasmus se Wêreldbeker-groep kan haal.Foto: Getty Images

“Ek kyk wel na ’n paar spelers in sleutelposisies soos haker en losskakel, en spesifiek na ouens soos Pat Lambie en Bismarck du Plessis.

“Daar is spelers wat ek dophou, maar ek twyfel of ons regtig, afgesien van die spelers wat tans in ons groep is, ander oorsese spelers sal kies. Dit kan altyd verander as daar groot beserings is.”

Dit is nie goeie nuus vir spelers soos Jan Serfontein en Frans Steyn nie.

Serfontein, wat vir Montpellier in Frankryk speel, het onlangs weer begin speel en dit sal ’n verrassing wees as hy glad nie in die afsienbare toekoms deel van Erasmus se planne is nie.

Volgende jaar se Superreeks sal die belangrikste maatstaf wees vir Wêreldbeker-kandidate. Dit is juis met sy vertonings in die kompetisie waarmee Nkosi vanjaar op die voorgrond getree het.

Vermeulen speel in 2019 Superrugby vir die Bulle, sodat dit hom ook die beste moontlike kans gee om Erasmus se groep te haal.

Meer oor:  Sbu Nkosi  |  Parys  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Jaareindtoer  |  Springbokke  |  Rugby  |  Vleuel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.