Asof daar nie reeds genoeg Blitsbok-trane die afgelope naweek by die sewestoernooi in Las Vegas gerol het nie, het Suid-Afrika hom nog ’n nederlaag op die lyf geloop toe Fidji hom geklop het.

Vilimoni Botitu/Foto: Gallo Images
Die Fidjiane het die Blitsbokke in die halfeindstryd om die vyfde plek Sondagaand (SA tyd) met 14-12 geklop.
Fidji het sy oorwinning te danke aan sy beter vaardighede. Nie dat die Blitsbokke vrotsig was nie, hulle het hul harte uitgespeel en so byna die wedstryd in die doodsnikke beklink. Fidji het egter in ’n losgemaal, meters van sy doellyn, omgekeerde besit bewerkstellig toe die Blitsbokke op die aanval was.
Mfundo Ndhlovu het die kragmeting weens ’n polsbesering misgeloop en is vervang deur Muller du Plessis.
* Die VSA het Samoa met 27-0 oorrompel in die eindstryd om die titel te beklink.
Puntemakers:
Fidji 14 (14): Drieë: Josua Vakurunabili, Kalione Nasoko. Doelskoppe: Vilimoni Botitu (2).
Suid-Afrika 12 (5): Drieë: Ryan Oosthuizen, JC Pretorius. Doelskop: Selvyn Davids.