Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg een glip deur Kings se vingers

Die Southern Kings het Vrydagaand in Port Elizabeth ’n gulde kans verspeel om hul Pro14-wedstryd teen die Scarlets te wen.

Teen die einde was dit die Walliese span wat in ’n opwindende rugbywedstryd in die Madibaz-stadion met 41-34 baas was.

Masixole Banda draf Vrydagaand deur vir sy drie in die eerste helfte teen die Scarlets. Foto: Gallo Images

Met die rustyd was die Kings met 20-15 voor en daar was ook ’n tyd in die tweede helfte toe hulle met 34-22 voorgeloop het.

Hulle het egter die kragmeting deur hul vingers laat glip deurdat hulle te veel in hul eie gebied vasgepen is.

Reg teen die einde het hulle so byna ’n gelykop uistlag afgedwing, maar die Scarlets se verdediging het gehou.

Die Kings kan dalk ongelukkig voel oor ’n belangrike drie wat die skeidsregter, John Lacey, laat in die tweede helfte aan die besoekers toegeken het.

Dit was regtig nie duidelik of die besoekers gedruk het nie.

Albei spanne het twee drieë in die eerste helfte gekry. 

Die Kings se Masixole Banda het een gedruk en nog een aangevoer.

Vir sy eie drie het die heelagtertjie in die 12de minuut die Scarlets duur laat betaal toe hy sy paadjie doellyn toe deurgesystap het.

Tien minute later het Andisa Ntsila, een van die Kings se flanke, omkeerbesit gewen en op loop gesit.

Hy het na die agtsteman Ruaan Lerm uitgegee en hy het Banda in besit gestel.

Die voormalige Cheetah-heelagter Clayton Blommetjies was deurgaans gevaarlik wanneer hy die bal gekry het. Foto: Gallo Images

Banda het ’n goeie steekskoppie deurgesit en die blitsige regtervleuel Yaw Penxe het die bal bemeester en gedruk.

Albei die besoekers se drieë in die eerste skof is van dryfbewegings ná lynstane gekry.

Direk na die rustyd het die Scarlets skielik die bal met meer vertroue as in die eerste helfte rondgegooi, gate gevind, en die linkervleuel Ioan Nicholas is deur vir ’n drie.

Toe Dan Jones (losskakel) die drie verdoel, het die besoekers vir die eerste keer voorgeloop.

Dit was egter nie vir lank nie, want in die negende minuut van die tweede helfte het die senter Harlon Klaasen sy weg vir ’n drie vir die Kings oopgebeur.

Die Kings het hul voorsprong vergroot toe Bjorn Basson daarna ook vir hulle gaan druk het, maar die Scarlets se blus was nog nie uit nie.

Hulle het geantwoord met ’n drie deur Werner Kruger.

Agt minute voor die einde het ’n bondel Scarlet-spelers vir nóg ’n drie oorgebars. Dit kon die slot David Bulbring gewees het wat gedruk het, maar selfs op TV was dit nie seker nie.

Puntemakers:

Scarlets 41 (15): Drieë: Dafydd Hughes, Will Boyde, Ioan Nicholas, Werner Kruger, David Bulbring, Taylor Davies. Doelskoppe: Dan Jones (4). Strafdoel: Jones.

Southern Kings 34 (20): Drieë: Masixole Banda, Yaw Penxe, Harlon Klaasen, Bjorn Basson. Doelskoppe: Banda (4). Strafdoele: Banda (2).

Meer oor:  Scarlets  |  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.