Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nog een hekkie vir ervare Hendricks
Weer ’n kans vir sewes-glorie? Cornal Hendricks vier die Blitsbokke se goue medalje by die Statebondspele in 2014 in Glasgow. Foto: Getty Images

Die Bulle-senter Cornal Hendricks is al oor baie hekkies in sy sportloopbaan.

Nou wag daar nog een op hom voordat hy in Julie en Augustus moontlik saam met die Blitsbokke aan die Olimpiese Spele in Tokio kan gaan deelneem.

Die Kaapse kardioloog dr. Wouter Basson het Hendricks se rugbyloopbaan ’n tweede asem gegee toe hy hom goedkeuring gegee het om weer op topvlak rugby te speel. Danksy Basson se groen lig het die Bulle in 2018 besluit om Hendricks te kontrakteer – en van daar af het sy loopbaan van krag tot krag gegaan.

Basson is genader nadat die Bulle se voormalige hoëprestasie-bestuurder Xander Janse van Rensburg besluit het om Hendricks uit die rugbywildernis te gaan haal nadat hy laas in 2015 vir beroepspanne soos die Cheetahs en Springbokke gespeel het.

Basson het onder meer bevind rugby sal nie Hendricks se hartkwaal vererger nie.

Dit was nadat verskeie ander plaaslike en internasionale spanne, waaronder die Franse klubreus Toulon, nie bereid was om Hendricks die nodige mediese goedkeuring te gee nie.

Maar nou benodig hy weer ’n mediese ja-woord – dié keer van SA Rugby se mediese span – voordat hy deur die Blitsbokke oorweeg kan word.

Die rede is onder meer omdat Suid-Afrikaanse rugby nie een dokter se mening regdeur plaaslike rugby aanvaar nie. Elke span doen sy eie mediese toetse.

Ek weet ek is gesond en my mediese toetse wys dit.

Hendricks het gister aan Rapport gesê hoewel hy verstaan sy hartkwaal is deel van sy lewensverhaal, verkies hy dit om nou vorentoe te kyk en op die positiewe te fokus.

“Ek weet ek is gesond en my mediese toetse wys dit.

“As ek die kans kry om (vir die Blitsbokke of Springbokke) te speel, sal ek dit aangryp. Dit sal ’n eer wees vir my.”

Dr. Wouter Basson, Cornal Hendricks se kardioloog.

SA Rugby was nie in 2017 te vinde daarvoor dat Hendricks na die rugbyveld terugkeer nie, en het Roses United, die klubspan by wie hy sy eerste versigtige treë terug gegee het nadat ’n rits spanne hom weens kommer oor sy hartkwaal die deur gewys het, afgeraai om die blits in te span.

Saru het destyds gemeen Hendricks se mediese geskiedenis maak van hom ’n risiko-speler. Gelukkig vir hom het Roses Saru se skrywe geïgnoreer, en ná ’n skitterseisoen vir hulle die Bulle-kontrak gekry waarmee hy nou steeds sy stempel afdruk.

Hendricks beleef tans ’n droomseisoen en toon geen teken van die gesondheidsprobleme wat in 2015 veroorsaak het dat hy sowat drie jaar van sy loopbaan as ’n beroepspeler moes inboet nie.

Sy onlangse spel vir die Bulle kan ook sy kanse verbeter om deur Jacques Nienaber en Rassie Erasmus vir die vyftienmanreeks teen die Britse en Ierse Leeus oorweeg te word.

Rapport verneem egter dit is waarskynliker dat Hendricks eerder in ’n sewestrui sy terugkeer na die internasionale verhoog kan maak.

Die Spele in Tokio kan spesiaal wees vir Hendricks (32) omdat hy 2016 s’n juis weens sy hartkwaal misgeloop het.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, sou kennis geneem het van die gebore Bolander se spel op binnesenter vir die Bulle waarvoor hy die afgelope week as die Curriebeker se Speler van die Reeks aangewys is.

Hendricks het homself ook al op sewesvlak bewys, al was dit lank gelede. ’n Goue medalje in 2014 as lid van die Blitsbok-span tydens die Statebondspele is bewys daarvan.

Wat die vyftienman-spel betref, kan Hendricks se veelsydigheid om vleuel of senter te speel, in sy guns tel by die Bokke.

Hy het maklik aangepas toe Jake White hom in ’n meesterskuif van vleuel na binnesenter by die Bulle geskuif het.

Kritici was aanvanklik skepties daaroor, maar Hendricks, wat jare gelede senter vir Boland gespeel het, het White reg bewys.

Hendricks vier die Bulle se Curriebeker-sege oor die Haaie op Loftus. Foto: Lee Warren

Dit sal egter verras as Erasmus-hulle nie met Damian de Allende op binnesenter volhard nie, omdat hy deurentyd goeie spel vir sy Ierse klubspan, Munster, lewer.

Die Cheetahs se binnesenter, Frans Steyn, wat soos De Allende deel van die Bokke se Wêreldbekergroep in Japan was, sal ook moeilik weggelaat word.

Hendricks kan egter sy aanspraak op ’n plek in die nasionale vyftienmanspan versterk deur op sy spelpeil in die Curriebeker voort te bou in die komende Reënboogbekertoernooi.

Sy Bul-spanmaat Duane Vermeulen was die afgelope week vol lof vir Hendricks se spel. Hy self is as Speler van die Jaar aangewys.

“Dit is ’n vreemde prys as gevolg van die dinge wat deur die jaar gebeur het,” het Vermeulen oor dié prys gesê.

“Op ’n manier voel ek nogal jammer vir elke speler daar buite. Ons het nie baie internasionale rugby gehad nie, maar daar is ’n paar ouens wat hul klas gewys het.”

In dié verband sonder hy Curwin Bosch en Steven Kitshoff uit.

“Maar in my oë was Cornal Hendricks die uitblinker,” sê hy.

“Waar hy was en waar hy vandaan kom, met sy harttoestand, en as vleuel wat senter toe geskuif het. Hy het fantastiese rugby gespeel.”

Meer oor:  Blou Bulle  |  Mediese Toetse  |  Cornal Hendricks  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.