Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Nog één plettervat en ek’s breindood’

’n Derde toetsrugbyspeler in ’n paar weke het sy uittrede uit die spel weens die nagevolge van harsingskudding aangekondig.

Anthony Fainga’a plettervat Riaan Viljoen in ’n Superrugby-stryd tussen die Reds en Sunwolves in 2016. Fainga’a was bang dat hy breinskade sou opdoen met nog ’n harde hou teen sy kop op die rugbyveld. Foto: Getty Images

Die 32-jarige Wallaby-senter Anthony Fainga’a het weens vrese vir sy langtermyn-gesondheid sy stewels opgehang.

Hy het in 23 toetse vir die Wallabies gespeel en die Reds in 2011 na die Superrugby-titel help voer. Hy het die laaste paar seisoene in Japan gespeel.

Sy uittrede volg kort op die hakke van die Springbokke Pat Lambie (28) en Peter Grant (34) s’n. Hulle het om dieselfde rede ophou speel.

“Nog een harde hou teen die kop en sal waarskynlik breindood wees en nooit weer met my kinders kan speel nie,” het Fainga’a Woensdag in ’n onderhoud met Fox Sports News gesê.

“Ná ’n klomp harde houe teen die kop, moes ek ’n groot besluit neem. Ek is só lief vir rugby, maar ek moes omsien na my gesondheid.”

Fainga’a sê die nagevolge van sy kopbeserings in rugby was só erg dat hy ’n paar jaar terug hulp nodig gehad het om regop te staan tydens sy broer en gewese Wallaby-spanmaat Saia se troue.

“In 2016 het my tweelingbroer getrou en ek het as gevolg van al die harsingskudding hulp nodig gehad om by die kansel regop te kan bly staan. Iemand moes my ook help om by die kerk te kon uitstap,” het hy gesê.

Fainga’a het ’n pleidooi aan jong spelers, wat soortgelyke probleme ervaar, gerig om liewer op te hou speel.

“My boodskap aan sulke spelers is dat dit nooit te vroeg óf te laat is om op te hou nie.

“Almal hou van rugby, maar een harde hou teen jou kop kan jou lewe verander. Dis ’n moeilike keuse om vir jouself te sê jy gaan ophou met rugby en iets anders doen,” het Fainga’a gesê.

Lambie het verlede maand onthul dat hy nege maande ná hy harsingskudding in ’n wedstryd vir sy Franse klubspan, Racing 92 opgedoen het, steeds die simptome daarvan ervaar het. Hy het sedert 2016 ’n paar harde houe teen die kop gekry, wat hom lank op die kantlyn gehou het.

Hy het toe op die advies van twee top-neuroloë besluit om ter wille van sy gesondheid die spel vaarwel toe te roep.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Harsingskudding  |  Toetsrugby  |  Wallabies  |  Superrugby  |  Kopbesering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.