Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nog geen opera vir Giant Mtyanda in Italië

Giant Mtyanda sal maar nog ’n ruk moet wag voordat hy sy eerste opera-uitvoering in Italië kan bywoon.

Giant Mtyanda bevind hom deesdae in Itailë by Rovigo. Foto: Gallo Images

Mtyanda het teen die einde van verlede jaar vir Rovigo Delta in Italië begin rugby speel nadat hy die vorige paar jaar vir die Southern Kings en die Oostelike Provinsie uitgedraf het.

Dit het aanvanklik goed gegaan, tot alle sportbyeenkomste ook in Italië weens die verspreiding van die Corona-virus gestaak is.

Italië is die land buite Asië wat die ergste deur die virus getref is en selfs opera-vertonings word tans verbied.

“Alles is gestop. Ons mag nie eens buite oefen nie, so ek oefen maar met gewigte of spring tou,” laat weet die 33-jarige Mtyanda vroeër hierdie week via WhatsApp.

Mtyanda het aanvanklik gehoop om darem by ’n opera-vertoning uit te kom, aangesien dit een van die grootste passies in sy lewe is.

Hy het self op skool leer opera sing en het al baie van sy spanmaats tot stilswye geskok wanneer hy soos ’n wafferse Luciano Pavarotti lostrek met ’n aria uit ’n bekende opera.

Gert Smal en Naas Botha maak ’n bietjie keel nat tydens ’n rustige oomblik in die tyd toe hulle vir Rovigo gespeel het. Foto: Naas (biografie)

“Ek het nog nie kans gekry om by die opera uit te kom sedert ek hier aangekom het nie. Elke naweek was dit rugby en nou het die virus ’n stokkie voor als gesteek,” sê Mtyanda.

“Ek hoop maar dat dinge sal normaliseer en dat ek wel my aan ’n klassieke vertoning sal kan verlustig.”

Met die vrees vir die virus wat mense binnenshuis hou, het baie Italianers nou begin om in die aande op hul balkonne te sing of musiek te maak.

Die voormalige Springbok-kaptein Naas Botha het van 1987 tot 1992 vir Rovigo gespeel. Foto: Naas (biografie)

’n Dag of wat gelede het nege vliegtuie van die Italiaanse lugmag ook oor ’n deel van die land in ’n V-formasie gevlieg. Die vliegtuie het groen, wit en rooi rook (die kleur van die Italiaanse vlag) uitgeblaas en ’n area van Pavarotti oor luidsprekers gespeel.

Mtyanda se klub het op 15 Februarie laas gespeel en toe met 50-19 met Lyons Piacenza afgereken.

Rovigo is tans eerste op die Italiaanse Top12-puntelys. Die span is al lank een van die sterkstes in Italië, maar het verlede seisoen in die eindronde teen Calvisano verloor.

Deur die jare het Suid-Afrikaanse legendes soos Naas Botha en Gert Smal ook vir die klub gespeel.

“Hulle word nog onthou hier, Naas en Gert. Daar is foto’s van hulle in die kleedkamer en in die trofee-kamer,” sê Mtyanda.

“Daar word nog steeds oor hulle gepraat, oor hoe professioneel hulle was en hoe goed hulle hulle op en van die veld af gedra het.”

Mtyanda is een van vier Suid-Afrikaners wat tans deur Rovigo gekontrakteer is.

Buiten die groot slot, is daar ook Danie Mienie (stut), Jacques Momberg (haker) en Enrico Luit (slot) wat al staatmakers in die span geword het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.