Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg ’n dagvaarding in WP se pos

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) kan straks nóg ’n dagvaarding te wagte wees nadat die bom van Dream World Investments 401 se regsaksie teen hom Vrydag gebars het.

Netwerk24 het Vrydag eksklusief berig dat Dream World, wat verlede jaar R110,7 miljoen aan die WPRU geleen het, die WPRU en sy trustees vir sowat R145 miljoen dagvaar. Dit sluit in die oorspronklike leenbedrag, ’n aanvangsfooi van R1,265 miljoen en ’n “ontwikkelingsfooi” van R30,1 miljoen. Rente word ook geëis.

Die WPRU het deur ’n woordvoerder aan Netwerk24 bevestig dat hy van die dagvaarding verwittig is en gesê sy regspan sal die verdediging hanteer.

“Die unie gaan op hierdie stadium nie verdere kommentaar lewer nie. Sy verdediging sal mettertyd bekend gemaak word,” sê die WPRU.

Maar dis blykbaar net die eerste skote.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment. Foto: Argief

Die WPRU kan waarskynlik ’n veel groter eis te wagte wees van Flyt Property Investment en die afsonderlike maatskappye wat gestig is vir die doeleindes van die beoogde ontwikkelings by die Nuweland-stadion en Brookside. Flyt en die WPRU sou albei 50% van die aandele in die ontwikkelingsmaatskappye hê.

Volgens die WPRU het die ooreenkomste egter nooit tot stand gekom nie. Sy regsverteenwoordigers het in November in ’n brief aan Flyt en Dream World aangevoer dat die lenings- en eiendomsontwikkelingsooreenkomste net ’n beplande vennootskap tussen hom en Flyt was.

Die feit dat Dream World as party bygekom en die geld voorgeskiet het, maak volgens die WPRU die ganse ooreenkoms tot niet.

Dit is ook die WPRU se standpunt dat die eiendomsontwikkelingsooreenkoms ongeldig is omdat die “onderwaardering” van Nuweland, op ’n lys van bepalings van die ooreenkoms, “teen openbare belang” en “openbare beleid” indruis.

Flyt gaan dit egter nie daar laat nie.

“Flyt oorweeg sy posisie, maar gaan waarskynlik regstappe neem om vergoeding te eis vir die skade wat hy berokken is deur die WPRU se repudiasie,” het Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt, in ’n e-pos aan Netwerk24 gesê.

Volgens Flyt en Dream World se regsverteenwoordigers is daar in ’n gevorderde stadium van onderhandelings ooreengekom dat Dream World die geld sou voorskiet en dat die bepalings van die eiendomsontwikkelings tussen die WPRU en Flyt sou wees.

Volgens De Decker kan daar nie op regsgronde onderskeid getref word tussen Flyt en Dream World nie.

“Flyt en Dream World is aparte maar wettig gekoppelde entiteite wat verantwoordelik is vir verskillende aspekte van ’n kommersiële transaksie. Dit het geen invloed op die kwessie of die kontrakte bindend was en of daar repudiasie van hulle was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.