Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg ’n oud-Bok kan Kings oorsee teister

Die Southern Kings kan hulle Sondag in Wallis vir die tweede agtereenvolgende naweek teen ’n voormalige Springbok-agtsteman, wat tans die beste rugby van sy lewe speel, vasloop.

Verlede naweek was dit Arno Botha wat drie drieë gedruk het in Munster se oorwinning van 68-3 oor die Kings in Ierland.

Kultusfiguur: Uzair Cassiem se rugbyloopbaan is besig om in Wallis nuwe hoogtes by die Scarlets te bereik. Foto: Gallo Images

Sondag pak die Kings die Scarlets in Llanelli in nog ’n Pro14-wedstryd en dié keer kan hulle maar uitkyk vir Uzair Cassiem.

Cassiem, wat in 2016 en 2017 in agt toetse vir die Bokke in aksie was, is besig om die nat velde van Europa droog te speel met sy witwarm vertonings. Net verlede maand is die voormalige Cheetah deur walesonline.co.uk uitgesonder as een van die Scarletts se beste spelers sover hierdie seisoen.

Maar dis nie net die kritici wat gaande is oor Cassiem nie. Hy het aanvanklik met beserings gesukkel toe hy in 2018 by die Walliese span aangesluit het. Dis nou iets van die verlede en hy speel deesdae sulke goeie rugby dat die Scarlets se ondersteuners hom as een van hul gunstelingspelers aangeneem het.

Ná wedstryde op hul tuisveld kan Cassiem omtrent nie by die kleedkamer kom nie, so word hy deur handtekeningjagters oorval. Hy is self ook nie skaam om sommer by die paviljoen op te klim en met ondersteuners te gaan blad skud nie.

Werner Kruger speel ook steeds goeie rugby vir die Scarlets. Foto: Gallo Images

Die Scarlets het verlede week ietwat onverwags met 9-14 teen Edinburgh verloor. Kort voor die einde van die wedstryd het Cassiem ’n vinnige tikskoppie van ’n strafskop geneem en oor die doellyn gebars vir wat ’n belangrike drie sou gewees het. Hy het egter glo die tikskoppie van die verkeerde plek geneem en die drie is nie toegelaat nie.

Die Kings kan hulle seker nou maar regmaak vir ’n vasbeslote Cassiem wat teen hulle vir daardie foutjie sal wil vergoed.

Die Kings sal ook weer met die voormalige Bokstut Werner Kruger te doen kry. Kruger speel al sedert 2016 vir die Scarlets en het die Kings ook al ’n paar keer in die reeks stukkend geskrum.

Meer oor:  Uzair Cassiem  |  Kings  |  Scarlets  |  Pro14
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.