Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg ’n rugbyspeler dood

Die Franse Rugbyfederasie (FFR) se beroep op Wêreldrugby om sy reëls oor duikslae te hersien kan straks ernstiger opgeneem word nadat ’n vierde speler binne die bestek van agt maande in Frankryk dood is.

Bernard Laporte, die grootbaas van Franse rugby. Foto: Getty Images

Luidens ’n berig deur  rugbypass.com is Nathan Soyeux, ’n 23-jarige student, ná ’n duikslag in ’n wedstryd naby Dijon dood.

Die speler het aanvanklik regop gesit, maar het kort daarna gekla dat hy naar voel. Nadat sy toestand vererger het, is hy in ’n hospitaal in ’n geïnduseerde koma geplaas. Hy het egter nie herstel nie en is Maandag dood.

Die voorval volg kort op die hakke van ’n voorstel deur die FFR aan Wêreldrugby, die sport se internasionale beheerliggaam, dat duikslae bo die heupe verbied moet word.

Bernard Laporte, die hoof van die FFR, het dié voorstel gemaak en wil ook hê dat gelyktydige duikslae deur meer as een speler op ’n teenstander verbied word.

“Die welstand van ons spelers is ’n prioriteit. Die spel moet ontwikkel in een waar die ontwyking van duikslae belangriker as die impak van plettervatte is,” het Laporte gesê.

“Dis belangrik om mense se opvattings te verander en die reëls te verander, veral ten opsigte van duikslae. Spelers moet in die spelreëls opgevoed word en bewus gemaak word daarvan dat hulle self vir hul veiligheid verantwoordelik is.”

Die FFR het aangebied om nuwe reëls oor duikslae in amateur-wedstryde op die proef te stel.

Die kwessie rakende gevaarlike duikslae is veral in die soeklig ná Wêreldrugby se dawerende stilte oor Owen Farrell se skouerloop op André Esterhuizen in November se toets tussen Engeland en Suid-Afrika op Twickenham.

Die skeidsregter in dié wedstryd, die Australiër Angus Gardner, het egter besluit om nie ’n strafskop in die doodsnikke van die wedstryd toe te ken nie en daardeur die Springbokke van ’n kans ontneem om die toets met ’n strafdoel te wen.

Gardner het later erken hy het ’n fout begaan.

Meer oor:  Bernard Laporte  |  Rugbyreëls  |  Wêreldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.