Die Walliese Wêreldbeker-haker Ken Waters is die vierde internasionale rugbyspeler wat in die afgelope dekade met motorneuronsiekte gediagnoseer is.
Die ander was die Springbok-skrumskakel Joost van der Westhuizen, die Springbok-senter Tinus Linee en die Skotse slot Doddie Weir.

Ken Waters (middel) saam met Neil Hitchman en John Rowlands, wat die voorry vir Newbridge gevorm het. Foto: Getty Images
Linee is op 45-jarige ouderdom in November 2014 en Van der Westhuizen (ook 45) in Februarie verlede jaar dood.
Weir (48) is in Desember 2016 meegedeel dat hy ook dié ongeneeslike siekte onder lede het.
Die 57-jarige Waters het net in een toets vir Wallis in die Wêreldbeker-toernooi in 1991 gespeel. Wallis is in dié toets met 16-13 deur Samoa geklop in wat ’n groot opskudding was.
Ek het geweet ek is nie gesond nie, maar ek het nie gedink dit sou MNS wees nie. Ek het gedink dis ’n ou rugbybesering wat my inhaal.
Ken Waters
“Dit was waarskynlik in 2015 toe ek besef het iets is fout. Ek het saam met Caerleon (rugbyklub) vir die tiende veterane-toernooi geoefen en my enkel het my gepla,” het Waters in ’n onderhoud met WalesOnline gesê.
“Ek het nog gedink ‘wat gaan hier aan’, want ek het myself nie beseer nie. Ek het ná die toer die dokter gaan sien en verduidelik wat aan die gebeur is.
“Hy het my na ’n voetheelkundige gestuur, maar het toe besef my regterkuit word kleiner. Hy het gesê: ‘Reg, jy moet ’n neuroloog gaan sien.’ ”
Waters sê die diagnose het as ’n “ontnugterende skok” gekom en hy was in ’n “slegte plek”, maar het sedertdien daaruit gekom en hy probeer positief bly.
“Dit was vier dae ná my 54ste verjaardag en ek het net uit die polisie in Gwent in Wallis afgetree. ’n Klomp toetse is gedoen en uiteindelik is ek met motorneuronsiekte gediagnoseer.
“Ek was nie daarop voorbereid nie. Ek het geweet ek is nie gesond nie, maar ek het nie gedink dit sou MNS wees nie. Ek het gedink dis ’n ou rugbybesering wat my inhaal.
“Die enigste medikasie wat hulle jou kan gee, is om jou lewe te verleng.
“Ek het geleer om daarmee saam te leef en moet aangaan met my lewe. Ek is nie slegter af as ander mense nie.
“Ek vat elke dag soos dit kom en ek probeer my positiewe uitkyk op die lewe behou. Dit het my verstand in ’n stadium aangetas.
“Toe ek gediagnoseer is, het ek my doodsberig geskryf, ek was bekommerd oor hoe my vrou, Yvette, en my seuns dit sou hanteer. Toe besef ek hulle kán en ek het ’n gevoel van verligting ervaar.” – Sportredaksie