Die kaptein van Fidji se sewesrugbyspan is vir dronkbestuur in hegtenis geneem en kan dié span se aanslag op die Wêreldreeks-titel laat ontspoor.

Kalione Nasoko, kaptein van Fidji se sewesrugbyspan, is in die sop in sy tuisland. Foto: Getty Images
’n Berig op Fidjiaanse TV beweer Kalione Nasoko (28) is deur dié land se polisie in hegtenis geneem nadat hy onder die invloed van alkohol bestuur het.
Hy is in aanhouding by die Nadi-polisiekantoor, terwyl die saak ondersoek word, berig rugbypass.com.
Nasoko is nie die enigste speler van Fidji wie se wangedrag die opskrifte haal nie.

Mesulame Kunavula in aksie by die Statebondspele in 2018. Foto: Getty Images
Mesulame Kunavula het hom laat in 2018 ook in die lang arm van die gereg vasgeloop, nadat hy betrap is dat hy sonder ’n lisensie bestuur het.
Asof dit nie genoeg is nie, moet ’n voormalige spelskepper van Fidji, Amenoni Nasilasila, binnekort in die hof verskyn op aanklag dat hy ’n 24-jarige vrou verkrag het.
Boonop is Vatemo Ravovou weens tugsake uit die span gelaat vir die laaste twee toernooie in Hamilton en Sydney.
Fidji is derde op die puntelys ná afloop van vier toernooie. Die vyfde toernooi van die huidige seisoen word die eerste naweek in Maart in Las Vegas beslis. – Sportredaksie