Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg ’n trofee wink vir Bulle ná sege

Die Bulle is een treë nader daaraan om nog ’n beker in hul alreeds propvol trofeekas op Loftus Versfeld te bêre.

Dít nadat Jake White se span Saterdagaand op Kingspark in Durban te veel skietgoed vir die Haaie gehad het, en hul laaste Reënboogbeker-kragmeting met 34-22 gewen het.

Die Bulle-senter Cornal Hendricks was ’n handvol in sy span se wedstryd teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Danksy dié sege sluit die Bulle die plaaslike Reënboogbeker-reeks boaan die punteleer af. Meer nog: hulle kan hul vliegtuigkaartjies na Italië bespreek, waar hulle aanstaande Saterdag in Treviso in die kompetisie se Noord-Suid-eindstryd teen Bennetton te staan sal kom.

Die Ligbloues het die plaaslike reeks van begin tot einde oorheers, en het hulle nie op Ellispark teen die Leeus vasgeval nie, sou White se troepe die reeks onoorwonne afgesluit het.

Ná ’n paar weke waarin die Bulle op voorspeler-oorheersing én vonkelwyn-aanvalle kon staatmaak, het hulle aanvanklik Saterdag effens onseker gelyk en gesukkel om hul stempel af te druk.

White het juis vroeër vandeesweek gesê sy span moet waak teen ’n stadige begin. Hy sou sy spelers waarskynlik daaraan herinner het toe hulle rustyd in die kleedkamer gaan sit het met ’n skrale voorsprong van 13-10.

Dinge het egter in die tweede helfte meer in plek geval vir die Pretorianers, en hulle het stelselmatig begin oorheers.

Drie drieë binne elf minue deur die heelagter David Kriel, vleuel Stravino Jacobs en slot Janko Swanepoel het die Haaie teen die planke gehad. Saam met ’n wegbreek-drie deur die senter Cornal Hendricks in die eerste helfte het daardie blitzkrieg die Bulle verseker van die enkele bonuspunt wat hulle nodig gehad het om hul vlug na Italië te verseker.

Kriel se drie het van ’n vinnige tikskop gekom, toe hy die Haaie-verdedigers op hul doellyn aan die slaap gevang het. Die heelagter het flink gedink om die strafskop vinnig waar te neem nadat sy voorspelers die Haaie op hul doellyn in trurat gedruk het toe die bal by die skrum ingegooi is.

Jacobs het op sy beurt soos ’n vuurpyl deur die Haaie-verdedigingslyn gevlieg om sy drie te gaan druk, terwyl Swanepoel danksy sy voorspelers se volgehoue druk kon afrond.

Swak verdediging was een van die Haaie se groot kwelpunte. Dít, en die feit dat hulle nooit gemaklik met die bal in die hand gelyk het nie.

Terwyl die span drie goeie drieë gedruk het, waaronder ’n indrukwekkende een deur die Bok-kaptein Siya Kolisi, het hulle net nooit na ’n span gelyk wat die Bulle kon laat huil nie. Die tuisspan se baldraers het pal planloos rondgehardloop, terwyl aanslane hulle ook telkemale kanse in belowende veldposisies gekos het.

Die slot JJ van der Mescht was in dié opsig ’n groot sondebok, terwyl ’n paar van die senter Marius Louw en losskakel Curwin Bosch se besluite ook verdag was. Slegs die flank Thembelani Bholi en agsteman, Phepsi Buthelezi, kon met hul kop omhoog van die veld stap ná blink vertonings.

White se Bulle het gewys hulle kan selfs sonder hul kaptein, Duane Vermeulen, en die breker-flank Elrigh Louw klaarkom. Marcell Coetzee het as agsteman-kaptein geskitter, veral by die afbreekpunte, terwyl Hendricks, die losskakel Morne Steyn en die skrumskakel Ivan van Zyl individueel goed was.

Die pak voorspelers verdien ook ’n pluimpie, veral vir hul vertoning in die skrums.

Terwyl die Bulle in die wolke sal wees oor hul kans om nog ’n trofee in te palm, het hulle nou ’n ander kopseer: om twee sterk spanne saam te spel vir sowel die Reënboogbeker-eindstryd as die 23-tal vir hul eerste Curriebeker-wedstryd op dieselfde dag.

Puntemakers:

Bulle 34 (13): Drieë: Cornal Hendricks, David Kriel, Stravino Jacobs, Janko Swanepoel. Doelskoppe: Morne Steyn (4). Strafdoele: Steyn (2).

Haaie 22 (10): Drieë: JJ van der Mescht, Siya Kolisi, Anthony Volmink. Doelskoppe: Curwin Bosch, Manie Libbok. Strafdoel: Bosch.

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.