Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg ’n WP-direkteur vat die pad

Die woelinge in die direksie van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel, Western Province Professional Rugby (WPPR), duur onverpoos voort, met nóg ’n direkteur wat bedank het.

Ebrahim Rasool, voorsitter van Western Province Professional Rugby, die WP Rugbyunie se sakevleuel. Foto: Gallo Images

Lauren Benjamin, wat in November as ’n onafhanklike direksielid betrek is, het Vrydag by navraag aan Netwerk24 bevestig dat sy bedank het. Sy wou nie die redes vir haar besluit verskaf nie.

Met haar aanstelling was Benjamin vir die sakevleuel ’n groot aanwins danksy haar kundigheid in die gebied van mensehulpbronne. Sy is die hoof van mensehulpbronne by Sanlam Beleggings.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPPR, sê dat Benjamin se bedanking hulle “nie onkant betrap het nie” omdat dit “vooraf” met hulle bespreek is.

“Ons het haar gevra om langer aan te bly sodat haar verantwoordelikhede aan iemand anders oorgedra kan word en seker te maak dat die WPPR se ommekeer op koers is, wat ons glo nou die geval is,” sê Rasool.

“Daar moet gemeld word dat bo en behalwe dat sy ’n bekwame heeltydse beroepspersoon is, me. Benjamin klein kinders het, wat minder aandag gekry het weens haar verantwoordelikhede by die WPPR.

“Ons begryp daarom haar behoefte om meer op haar gesin te fokus. Ons bedank haar dat sy die proses gedryf het tot waar dit nou is, om ’n nuwe uitvoerende hoof vir WPPR te vind. Die proses sal met die verloop van tyd afgehandel word.”

Benjamin se besluit kan juis die soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof vertraag omdat haar fokus in die direksie mensehulpbronne was.

Ebrahim Rasool, voorsitter van WPPR, sê dat Benjamin se bedanking hulle 'nie onkant betrap het nie' omdat dit 'vooraf' met hulle bespreek is.

Paul Zacks, die vorige uitvoerende hoof, het aan die einde van 2019 reeds die tuig neergelê. Ruben Machelm neem waar in die pos en doen uitsluitlik verslag aan die WPPR, en nie die WPRU nie.

Junaid Moerat sou in Februarie waarnemend in die pos begin werk het, maar is op die dag wat hy sou begin het – hangende ’n tugverhoor – as ’n lid van die uitvoerende raad geskors. Die rede hiervoor is dat hy na bewering inligting oor ’n moontlike samewerkingsooreenkoms tussen die WPRU en die Franse klub Stade Français laat uitlek het. Hy ontken dit.

Die argitek van die ooreenkoms, wat nie tot stand gekom het nie, was Tony McKeever, wat ook in die pos van uitvoerende hoof belang gestel het.

Die woelinge het in Junie 2020 begin toe Kevin Kiewitz as ’n lid van die WPRU se uitvoerende komitee, en daardeur outomaties uit die sakevleuel se direksie, bedank het. Hy was deur die unie aan die sakevleuel afgevaardig.

Raymond van Niekerk het in September die pad gevat nadat die WPRU besluit het om nie die termyne van dr. Johan van der Merwe en André van der Veen as onafhanklike direkteure te verleng nie.

In Oktober het Hennie Heymans en Suzanne Stevens – onderskeidelik verteenwoordigers van die WP se twee grootste borge, DHL en BrightRock, bedank.

Spencer King het in Desember besluit om die tuig as die WPRU se visepresident neer te lê. Hy was ’n afgevaardigde uit unie-geledere en het dus ook outomaties uit die sakevleuel se direksie bedank.

Die WPRU het in Desember besluit om Peter Jooste en Moneeb Levy as unie-afgevaardigdes aan die sakevleuel herroep.

Meer oor:  Ebrahim Rasool  |  Wp Rugbyunie  |  Kaapstad  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.