Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nóg raadsaal-skote wond WP voor seisoen

’n Nuwe stadion en nuwe kaptein vir Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs, maar gaan die skote wat in die Westelike Provinsie se raadsale klap verhoed dat die Stormers tot hul reg kan kom?

Peter Jooste Foto: Gallo Images

In die jongste verwikkeling van geniepsigheid agter die skerms, het Netwerk24 verneem dat Peter Jooste en Moneeb Levy as direkteure van die WP Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel verwyder is. Albei was afgevaardigdes van die unie.

Netwerk24 het reeds Vrydag van dié beweerde ontwikkeling te hore gekom, maar ’n navraag daaroor, insluitend die redes en wie hulle gaan vervang, het teen Maandag nog op dowe ore geval. Jooste en Levy kon ook nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens gerugte kan Mario Williams en Anele Zita moontlik uit unie-geledere as direkteure aangestel word, met Quintin van Rooyen as ’n alternatiewe direkteur. Al drie is gewone lede van die WPRU se uitvoerende komitee.

Die situasie is egter vloeibaar, want dit is alom bekend dat ’n mosie van wantroue Zelt Marais, die president van die WPRU en ook ’n direkteur van die sakevleuel, moontlik in die gesig staar.

Daar is egter toenemend ’n gevoel dat die mosie van wantroue eintlik in die ganse uitvoerende bestuur behoort te wees sodat nuwe leiers verkies kan word. Bronne het aan Netwerk24 gesê dit is nie uitgesluit nie.

’n Mosie van wantroue verg egter minstens tien briewe van klubs. Alvorens dit die geval is, sal die enigste verkiesing by die volgende unievergadering op 8 Maart wees om die vakature van vise-president te vul.

Spencer King het juis in Desember ook as vise-president van die WPRU bedank weens ’n beweerde resolusie dat afgevaardigdes wat nie die unie se mandaat op die sakevleuel uitvoer nie, as direkteure verwyder moet word. King was ook ’n direkteur van die sakevleuel.

Afgevaardigdes se handelinge op die maatskappy se direksie strook vanweë die vereiste van korporatiewe bestuur nie altyd met die unie se mandaat nie. Betrokkenes moet in belang optree van die maatskappy op wie se direksie hulle dien.

Die ontwikkeling rondom Jooste en Levy volg op verlede week se skorsing van Junaid Moerat as ’n lid van die uitvoerende raad. Daar word beweer dat hy inligting aan die media uitgelek het en die WPRU het glo ’n “fluitjieblaser” om die saak te staaf.

Moerat – ook ’n unie-afgevaardigde aan die sakevleuel – sou verlede week as uitvoerende hoof van die sakevleuel begin werk het.

Dis teen dié agtergrond wat John Dobson, afrigter van die Stormers, topspelers in die unie moet oortuig om hul kontrakte te verleng en ook moet slyp vir die voorbereidingsreeks wat hierdie naweek afskop.

’n Mosie van wantroue verg egter minstens tien briewe van klubs. Alvorens dit die geval is, sal die enigste verkiesing by die volgende unievergadering op 8 Maart wees om die vakature van vise-president te vul.

Die WP trek effens teen die wil van administrateurs Kaapstad-stadion toe, wanneer daar eintlik nog in Nuweland gespeel kan word, veral gegewe dat skares nie tans toegelaat word en losies ook nie gevul mag word nie.

Of die Stormers onder die wispelturige omstandighede hul beste sal kan lewer, is ’n ope vraag.

Die WP is ook besig om deur die handelinge van sy administrateurs ondersteuners te vervreem.

’n Groot kommer is ook hoe die private sektor die WP bejeën weens die unie se neiging om weg te stap van ooreenkomste wat hy onderteken het – soos die geval was met Investec en Flyt Property Investment vir eiendomsontwikkelinge – en die behandeling van ’n voorgenome belegger in die Amerikaanse konsortium MVM Holdings.

Dit kan ernstige nagevolge hê met betrekking tot ondernemings se besluite om sake met die WP te doen of losies by die stadion te huur.

Jooste en Levy is straks ook die mees gesiene administrateurs op die WPRU se uitvoerende raad en het kennis na die sakevleuel-direksie gebring wat nie maklik vervang kan word nie.

Levy beklee ’n senior pos by Vodacom, terwyl Jooste ’n bekende sakeman en sameroeper van Suid-Afrikaanse rugby se keurkomitee is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.