Die losskakel Tian Schoeman sal waarskynlik tot die einde van Desember nog in Bloemfontein wees, terwyl die haker Reinach Venter net tot die middel van die maand nog vir die Cheetahs beskikbaar is.

Die Cheetahs-losskakel Tian Schoeman gaan sy loopbaan oorsee voortsit. Foto: Gallo Images
So sê die Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie, in antwoord op die nuus dat dié twee spelers hul loopbane ook in Europa gaan voortsit. Hulle kan volgens Rapport hulle loopbane by Bath in Engeland en by Clermont in Frankryk onderskeidelik voortsit.
Venter het die onlangse kanse wat hy in die beginspan gehad het goed benut. Hy sal die eerste twee naweke van die maand nog beskikbaar wees.
“Wilmar Arnoldi behoort dan reg te wees,” sê Fourie.
Arnoldi het sy wangbeen vroeg in September tydens ’n kontaksessie gekraak.
Marnus van der Merwe, Jacques du Toit en Louis van der Westhuizen is die ander hakers in die groep.
Die oud-Matie Reinhardt Fortuin was die Cheetahs se plaasvervanger-losskakel in die laaste paar wedstryde.
Die Springbok Frans Steyn kan ook ingespan word, terwyl die skrumskakel Ruan Pienaar selfs generaal kan wees as die nood regtig druk. Hy spog met toetswedstryde op losskakel en was die nr. 10 toe die Bokke die Britse en Ierse Leeus in 2009 in die eerste twee toetse geklop het.
Die Cheetahs het oor die naweek in ’n verklaring gesê hulle sal binne die volgende drie weke in ’n posisie wees om aan te kondig wat die toekoms inhou. Dit sal ook goeie nuus wees vir die spelers, wat meer sekerheid oor hul toekoms verlang.
Die stut Luan de Bruin het vroeër prontuit gesê die onsekerheid na die span uit ’n vergrote Pro16-toernooi geskop is, was een van die redes agter sy skuif na die Leicester Tigers in Engeland.
Hy sal hom in die komende week by sy voormalige spanmaat Jasper Wiese aansluit.
Die Tigers se hele lostrio Sondag teen Londen Irish was Suid-Afrikaners. Hanro Liebenberg en Cyle Brink het saam met Wiese opgedraf.
Die Cheetahs het Wiese, die slot Walt Steenkamp (Bulle) en Benhard Janse van Rensburg (Japan) aan die einde van Oktober verloor.
Schoeman en Venter volg in die voetspore van De Bruin en JP du Preez (Sale Sharks), wat intussen ook geleenthede in Europa aanvaar het.
Die Cheetahs het te midde van die “uittog” ’n paar aanwinste verwelkom en daar was ook die terugkeer van beseerdes soos Oupa Mohoje (flank/slot), Van der Merwe (haker/flank), Rhyno Smith (heelagter/vleuel), Howard Mnisi (senter). Die senter Dries Swanepoel oefen ook weer saam.
Arnoldi, Pienaar en die slot Reniel Hugo kan reeds die komende maand terug op die speelveld verwelkom word.
Die Vrystaat-Cheetahs speel Saterdag op Loftus Versfeld in hulle eerste Curriebeker-wedstryd teen die omgekrapte Blou Bulle.