Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nollis wen bekers vir Bulle ná dwarsklap
Nollis Marais word verlede maand in Bloemfontein deur sy spelers omhoog gehou nadat die Bulle die nasionale o.21-titel gewen het. Foto: Gallo Images

In 2017 was hy in onguns by Loftus Versfeld en twee jaar later het Nollis Marais ’n sleutelrol gespeel om te verhoed dat die Bulle die seisoen met ’n leë bekerkas afsluit.

Die Bulle se o.19-span het Saterdag in Kaapstad die nasionale titel in die eindstryd teen die Westelike Provinsie verower.

Die Ligbloues het die Streeptruie ook vroeër die seisoen in Bloemfontein in die eindstryd van die o.21-kampioenskap geklop.

Marais, die Bulle se hoof van junior rugby, is die o.21’s se afrigter en hy het die naweek in ’n raadgewende hoedanigheid die o.19-span se afrigters, Hayden Groepes en Edgar Marutlulle, bygestaan.

Dié voormalige hoofafrigter van die Bulle spog met ’n indrukwekkende lys bekers.

Die Jong Bulle het, afgesien van vanjaar, ook in 2011, 2012 en 2014 die o.21-kroon gewen, terwyl die Tukkies die Varsitybeker-titel in 2012 en 2013 onder Marais verower het.

Hy gee toe hy het ’n moeilike pad by Loftus gestap nadat hy in 2017 – midde in die Curriebeker-reeks – die trekpas gekry het as die Ligbloues se hoofbreier.

Hy is destyds gevra om die unie se o.19’s af te rig.

Daar het ook boonop niks gekom van die beloftes dat hy die volgende seisoen een van John Mitchell se hulpafrigters in die Superreeks sou wees nie.

Daar was dae wat ek kwaai in myself getwyfel het. Dit is nie maklik om in Superrugby in beheer te wees en dan ewe skielik ’n o.19-span te moet afrig nie.
Nollis Marais

“Daar was dae wat ek kwaai in myself getwyfel het. Dit is nie maklik om in Superrugby in beheer te wees en dan ewe skielik ’n o.19-span te moet afrig nie.

“Iemand het op ’n dag gesê dit is soos die uitvoerende hoof van ’n maatskappy wat gevra word om kombuis toe te skuif om te gaan tee maak.

“Ek kon in ’n hoek gaan lê en huil of vasbyt en die beste maak van dit wat gebeur het. Dit is egter ’n stryd wat ek vandag nog mee worstel.”

Willem Strauss, president van die Blou Bulle, saam met Alan Zondagh, dié unie se direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Hy sê die nuwe bewind by Loftus, Alfons Meyer (uitvoerende hoof) en Alan Zondagh (direkteur van rugby), gee hom die vryheid om sy stempel af te druk.

“Hulle is rustige ouens en nie iemand wat jou oorhaastig sal afdank nie. Ek dink hulle het saam met Pote (Human, die Bulle-hoofafrigter) baie stabiliteit gebring.”

Marais sê die uitdaging is nou om die talentvolle spelers in dié twee kampioenspanne so gou moontlik gereed te kry vir Superrugby.

“Jy gaan nie meer spelers soos RG Snyman en Jason Jenkins hê nie, sulke spelers word ál vroeër deur oorsese klubs geteiken.

“Ons moet elke individu in die beste moontlike speler ontwikkel. Nog voordat ’n jong outjie gekontrakteer word, moet hy vir ’n posisie en rol in die Superrugby-span geoormerk word.”

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), sê al die junior afrigters het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

“Dit is met die oog op die toekoms fantasties dat albei junior spanne die beste in die land is en dat ons Cravenweekspan in die eindstryd gespeel het.

“Die uitdaging is nou om dié talent in topspelers te ontwikkel.”

Meer oor:  Nollis Marais  |  Alan Zondagh  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Bbm  |  Rugby  |  Sukses  |  Junior Spanne  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.