Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Noord-Suid sonder byt in CB-reeks?

Vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks sal op ’n afgewaterde noot afskop indien die Bulle of Stormers tot die Reënboogbeker-eindstryd op 19 Junie in Treviso deurdring.

Die Blou Bulle en Westelike Provinsie is geskeduleer om mekaar op dieselfde dag in die eerste ronde van die CB-reeks op Loftus Versfeld te pak.

Daar bestaan dus ’n wesenlike gevaar dat een van die spanne erg verswak sal wees vir wat tradisioneel een van die grootste CB-wedstryde van die seisoen is.

“Gegewe ons posisie op die puntelys en manier waarop ons die Reënboogbeker-reeks afgeskop het, sal daardie eindstryd in Europa ’n lekker probleem wees om te hê!” was die reaksie van John Dobson, die Stormers en WP se afrigter, toe hy gevra is of hy sou verkies het om eerder ’n loslootjie in die eerste ronde van die CB-reeks te hê.

Die Curriebeker-reeks word vanjaar tussen die Bulle, Haaie, Leeus, Westelike Provinsie, Cheetahs, Griekwas en die Pumas oor ’n dubbelronde met ’n halfeindronde en eindstryd beslis. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Donderdag aangekondig dat die Vrystaat-Cheetahs die span sal wees wat ’n loslootjie in die eerste ronde het.

“Dalk is daar ’n saak te make vir ’n loslootjie, maar daar is net soveel om in te pas met ’n dubbelronde voor die Pro16-reeks begin.

“Om die Pro16- en Curriebeker-reekse op dieselfde tyd te hê, sal werklik ontwrigtend wees.

“Ek praat onder korreksie, maar dis ’n baie vloeibare situasie en daar’s sprake dat die Springbokke nie noodwendig in daardie eindstryd (in Treviso) gaan speel nie.”

Dobson wys daarop dat die WP uit hul universiteitspanne kan kies en ook ’n baie goeie jeugstelsel het.

In die Bulle-kontrei het Tuks pas die Varsitybeker gewen.

Dit sal hartseer wees as een van die WP of Bulle ’n kombinasie van ’n tweede en derde span moet kies, maar dis ’n produk van die tye.
John Dobson

“Saru bied vir ons beweegruimte oor hoe groot ons groepe mag wees en die gebruik van leenspelers, sodat al die groot spanne hul wedstryde kan eerbiedig,” sê hy.

“Dit sal hartseer wees as een van die WP of Bulle ’n kombinasie van ’n tweede en derde span moet kies, maar dis ’n produk van die tye.”

Jake White, afrigter van die Bulle, het geskerts daar sal Vrydagaand op Loftus Versfeld “gesien word wie kry dié probleem” op 19 Junie, skryf Cobus Claassen.

“As ons wen, het ons waarskynlik die probleem en dieselfde geld hulle as hul wen.

“As direkteur van rugby (van die Blou Bulle Maatskappy) moet ek toesien dat ons twee spanne het vir daardie dag, ongeag wat die omstandighede is.

“Dit gesê, ek wil nie sake vooruitloop nie, want ons is nog nie in die eindstryd nie.”

Ek probeer in die agtergrond om ’n sterk groep bymekaar te hou. Dit is ’n unieke uitdaging.
Jake White

White maak geen geheim daarvan nie dat hy sal moet raap en skraap om die Ligbloues se Curriebeker-veldtog op Loftus teen die WP te begin.

“Ek probeer in die agtergrond om ’n sterk groep bymekaar te hou. Dit is ’n unieke uitdaging.”

Terwyl dit ’n ope vraag is of daar raakgevat is met die skedulering, sal plaaslike ondersteuners die terugkeer van ’n CB-reeks oor ’n dubbelronde, met sewe spanne, verwelkom.

Daar moet wedstryde in die middel van week gespeel word om alles ingepas te kry, maar Suid-Afrika se spelers kan doen met speelkans nadat die staat van inperking verlede jaar die brieke op baie loopbane aangedraai het.

Die Pumas en Leeus is eerste aan die beurt in vanjaar se CB-reeks in Mbombela op 18 Junie. Die eindstryd word op 11 September gespeel.

Suid-Afrika se ander sewe senior provinsiale spanne sal oor ’n enkelronde in die Eerste Liga speel. Die eerste ronde wedstryde is op 19 Junie en die eindstryd op 14 Augustus.

Daar word ook afsonderlike provinsiale o.20-kompetisies gespeel. Die Bulle, Cheetahs, Oostelike Provinsie, Luiperds, Leeus, Haaie en WP ding mee in een reeks om die beker. Dit begin op 7 Augustus en die eindstryd word op 2 Oktober gespeel.

Op hul beurt spook Griekwas, die Pumas, Griffons, Valke, Grens, SWD-Arende, Boland en Limpopo dit uit om die Skild. Daardie reeks sal op 28 Augustus begin en op 25 September eindig.

Daar is ook ’n Eerste Liga-kompetisie vir vroue, wat op 12 Junie begin. Die betrokke spanne is die Cheetahs, Griffons, Griekwas, Luiperds, Leeus, Limpopo Blou Bulle, Pumas, SWD en Valke. Die eindstryd word op 17 Julie gespeel en sal die voorwedstryd wees vir die eindstryd van die Premierliga-reeks vir vroue, wat tans onderweg is.

“Etlike faktore, soos die dubbelronde vir die Premierliga van die Curriebeker-reeks, die potensiële oorvleueling van kompetisies en die Britse en Ierse Leeus-reeks, waar vier van ons provinsiale spanne as ’n vereiste in bioborrels moet wees, het beteken dat ons wedstryde vir die middel van die week moes reël,” sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, in ’n verklaring.

Meer oor:  John Dobson  |  Jake White  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.